Die tweede Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe, aangebied deur Agri-Expo, het Woensdag 29 Julie by Eensgezind buite Durbanville nuwe hoogtes bereik toe 85 vervaardigers ‘n rekordgetal van 700 gepreserveerde vrugte- en groenteprodukte vir beoordeling ingeskryf het.
Vanjaar is die inskrywings deur ‘n paneel van 61 beoordelaars in meer as 100 klasse beoordeel, van konfyte, marmelades, blatjang en piekels tot pesto’s, olywe en ander vernuwende skeppings.
GROEI IN DEELNAME BEVESTIG KAMPIOENSKAPPE SE WAARDE
“Die rekordgetal inskrywings is ‘n bewys van die vertroue wat produsente in hierdie kompetisie het,” sê Breyton Milford, Hoofbestuurder van Agri-Expo. “Ons is besonder trots op die beduidende toename op verlede jaar se 456 inskrywings.”
“Die groei bevestig dat die kampioenskappe ‘n waardevolle platform bied vir sowel gevestigde as opkomende vervaardigers om hul produkte teen die hoogste standaarde te laat beoordeel, terwyl dit ook verbruikersvertroue in Suid-Afrikaanse preserveerprodukte versterk.”
Agri-Expo, wat vanjaar sy 195ste bestaansjaar as landbougenootskap vier, het die kampioenskappe in 2025 gevestig om uitsonderlike gehalte te erken, entrepreneurs te ondersteun en die kuns van voedselpreservering te bevorder.

KUNDIGE BEOORDELING VERSTERK GELOOFWAARDIGHEID
Volgens Chris Fourie, President van Agri-Expo, lê die sukses van die kampioenskappe nie net in die groot aantal inskrywings nie, maar ook in die gehalte en integriteit van die beoordelingsproses.
“Die kundigheid van ons beoordelaars gee geloofwaardigheid aan hierdie kampioenskappe. Met vyf beoordelaars per produk kan vervaardigers vertroue hê dat elke produk billik, onafhanklik en konsekwent beoordeel word.”
Produkte is deur middel van ‘n blinde proeproses beoordeel deur ‘n uiteenlopende paneel van kundiges uit die kos-, gasvryheids-, kleinhandel- en landbousektor.
TRADISIE EN INNOVASIE LOOP HAND AAN HAND
Die paneel is beïndruk met die uitsonderlike gehalte van sowel tradisionele, outentieke produkte as vernuwende skeppings wat verrassende geurkombinasies en hedendaagse leefstyltendense weerspieël.
“Wat my die meeste beïndruk, is dat die tradisionele, outentieke produkte op presies dieselfde hoë vlak meeding as die vernuwende produkte,” sê hoofbeoordelaar Susina Jooste, bekende koskenner en opleidingspesialis.
“Ons sien produkte wat jou aan jou ouma se kombuis herinner – ’n beoordelaar het vertel hoe perskesnippers trane in haar oë gebring het – maar ook waagmoedige nuwe skeppings wat vars denke weerspieël, soos groen olywe gevul met kasjoeneute, gedroogde gesoute olywe, spekboomblatjang en ingelegde jalapeños in ‘n soet stroop.”
Volgens Jooste bevestig die inskrywings dat daar ruimte in die mark is vir sowel die bekende smake van vroeër as nuwe, avontuurlustige geurkombinasies.
PRESERVEERPRODUKTE VERTEL SUID-AFRIKA SE VERHAAL
“Preserveerprodukte is soveel meer as net produkte op ‘n rak. Hulle vertel die verhaal van mense,” sê Fourie.
“Vir sommige het die maak van preserveerprodukte uit nood ontstaan om ‘n inkomste te verdien. Vir ander was dit ‘n manier om waarde tot vars produkte toe te voeg of ‘n passie in ‘n suksesvolle onderneming te omskep. Oor geslagte heen het verskillende gemeenskappe hul eie resepte, geure en tradisies bygedra. Vandag vier ons daardie ryk kos-erfenis, maar ook die produsente en vervaardigers wat aanhou innoveer en streef na uitnemendheid.”
How Regenerative Tourism is Unlocking New Value for Bergrivier Agriculture
Volgens Fourie sal dit nie moontlik wees om die kampioenskappe aan te bied sonder die ondersteuning van die wyer landboubedryf nie.
“Ons bedank graag ons vennote ClemenGold, Ardagh Glass Packaging–Africa, Hollard, Ecowize en SA Olive.”
Die wenners van die tweede Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe word op 27 Augustus 2026 by Eensgezind aangekondig.
Vir meer inligting, besoek www.sapreservechamps.co.za