Die kleingroeptoere is die hart van TE Toere, ontwerp vir dié wat ‘n dieper betrokkenheid met die plekke wat hulle besoek wil beleef. Hierdie toere word sorgvuldig saamgestel om ‘n onvergeetlike ervaring te bied. Sluit aan by TE Toere op reis na Marokko vanaf 7 – 20 Oktober 2024.
Marokko – eksoties en aards, maar lewendig in kleur, klank en geur. ‘n Reis deur die hart van die Juweel van die Maghreb, waar antieke geskiedenis en ‘n geleefde kultuur hand aan hand loop, en asemrowende landskappe om elke draai ontvou, van vergesigte oor woestynlandskappe tot lowergroen valleie en oases, die majestueuse Atlas-gebergtes en uitgestrekte kuslyn langs die Atlantiese en Middelandse Seë.
Ons avontuur begin in Rabat, die hoofstad, moderniteit naatloos langs ‘n ryk verlede, van die majestueuse Hassan Toring tot die Kasbah van die Udayas – onmiskenbaar Andalusies. Vandaar na Fes met sy kronkelende stegies in die enorme medina – ’n Wêrelderfenisgebied, waar ou wêreldse ambagte nog steeds beoefen word met die aroma van eksotiese speserye in die lug en die dringende geroep “Balak Balak!” (Opsy, Opsy!) van haastige pakmuile en hul drywers, wat weergalm en besige klante vinnig uit die pad laat skarrel.
Marrakesh, ’n malse kaleidoskoop van kleure en klanke. Die verleiding van die bedrywige souks, gepak met anderwêreldse koopware en die indrukwekkende Bahia-paleis waar ’n baie belangrike amptenaar van die koning eens met sy uitgebreide harem huis gehou het. Die tydlose sjarme van Essaouira, in die seerower-tyd genoem Mogador, met die Atlantiese Oseaan al klotsend teen die hoë antieke stadsmure. ’n Koel seebries moedig mens aan deur die witgekalkte straatjies gepak met kleurvolle winkels, koffieplekke, restaurante en kunsgallerye – ’n kunstenaarsparadys sonder enige aanstellerigheid.
Geen besoek aan Marokko is volledig sonder ’n kameelrit deur die duine van die Sahara woestyn nie. Die suggende plof van plomp kameelpote deur die poeiersand dra mens tot by ’n Berber-kamp vir ’n onvergeetlike oornag onder die helder sterrehemel.
Die kleingroeptoer in Oktober eindig in die groot stad Casablanca met sy indrukwekkende en moderne Hassan Moskee wat wag staan op die rotse by die see. Ontwerp en vakmanskap wat mens se asem wegslaan, veral as die reuse sederhout plafon geluidloos wegskuif en jy in die ewige bloue Marokkaanse lug kan instaar. Daar is ’n goeie rede waarom Marokko die Juweel van die Maghreb genoem word, die helder ster van Noord Afrika, outentiek, warm en aards – en moenie die beroemde kookkuns vergeet nie – ’n sensoriese ondervinding sonder weerga.
Kontak TE Toere by Club Travel Tygervallei, www.smallgrouptours.co.za 021 914 2265 of [email protected]