Die Saai Karoo Landboufees vind op 30 en 31 Oktober 2026 op die Laingsburg Sportgronde plaas en beloof om boere, gemeenskappe én die jeug byeen te bring vir twee dae van kennis, inspirasie en egte Karoo-gasvryheid. Die fees, wat vanjaar vir die vyfde keer aangebied word, is reeds ’n gevestigde hoogtepunt op die streek se landboukalender.
Vrydag se Landbou- en Gemeenskapsfokus
Die amptelike program skop Vrydag af met die BKB-veeveiling en ’n spesiale jeugprogram wat deur die Departement Landbou, Wes-Kaap aangebied word. Om 14:00 volg ’n belangrike paneelbespreking met dr. Ivan Meyer (Minister van Landbou, Ontwikkeling & Toerisme, Wes-Kaap), Grant Naudé (SA Merino) en dr. Theo de Jager (Saai), gefasiliteer deur Heindrich Wyngaard. ’n Bespreking oor vrouemishandeling, aangebied deur die Kaapse Forum, vorm ook deel van die middag se verrigtinge. Die Vrydagaand word op ’n hoë noot afgesluit met die gewilde Mej. Landbou-kompetisie op die hoofarena, sowel as optredes deur Dani Villè en Wynand & Chereè.
Jeug en Innovasie: Interskole Patent/Modelle-kompetisie
Oor die volle twee dae (30–31 Oktober) staan die jong boere van môre in die kollig. Groot entoesiasme heers jaarliks onder die skole vir die jaarlikse interskole patent/modelle-kompetisie, wat deur Hollard geborg word. Hierdie uitstalling en kompetisie bring vanjaar landbouskole soos Oakdale, Boland Landbou en Augsburg Landbou, asook die Hoër Tegniese Skool op Worcester, byeen op Laingsburg om hul kreatiewe idees en tegniese ontwerpe ten toon te stel.
Saterdag se Vermaak, Tradisies en Trekpleisters
Saterdag is gepak met aksie en vermaak vir die hele gesin. Ná die pretloop en sokkertoernooi kan besoekers uitsien na die kermis, groentemark, die Santam Karoo Kole Koning-braaikompetisie en die ATKV-talentkompetisie. Dames kan uitsien na ‘n eksklusiewe damesfunksie om 12:00 in die Stephanus Greeffsaal, waar Hannes van Wyk en Dani Villè vir die vermaak sal sorg.
Die historiese wolbaaldra-kompetisie is ’n groot trekpleister. Dit is al in 1963 op Laingsburg aangebied met Francois le Roux as eerste wenner. Drie jaar gelede is dit weer amptelik by die Saai-fees ingestel, en die moontlikheid van ‘n nasionale kompetisie word tans ondersoek.
Besoekers kan Saterdag ook uitsien na ’n K9-hondevertoning deur die Mosselbaai K9-honde-eenheid en ’n sterkmankompetisie. Die dag word afgesluit met uitstekende musiek en optredes deur onder meer Dassie en Pietman Geldenhuys.

Buitengewone Besienswaardigheid: Rico die Rekord-Skaap
Feesgangers kan vanjaar uitsien na ’n baie spesiale gas op die feesterrein: Rico, die beroemde skaap wat sewe jaar lang alleen in die droogte van die Moordenaarskaroo oorleef het. Nadat hy van sy massiewe 30,7 kg-woljas verlos is, het hy ‘n Suid-Afrikaanse rekord opgestel!
Die feesnaweek word op Sondag, 1 November, afgesluit met ’n dankdiens in die Stephanus Greeffsaal. Besoekers word hartlik uitgenooi om saam met familie en vriende die naweek te kom geniet en Saai se missie te ondersteun: om die familieboer op die plaas en in die gemeenskap te hou.
Vir meer inligting: Kontak Ronika Groenewald by 083 483 0163