July 30, 2024

Clanwilliam Veldblomskou 2024: Nostalgie en Blomme met Leon Kluge

Clanwilliam Veldblomskou, met die tema “Nostalgie”, vind vanjaar plaas vanaf 23 Augustus tot 3 September in die Blomkerk. Die welbekende Leon Kluge, die wenner van verskeie toekennings vir landskapuitstallings regoor die wereld, insluitende toekennings vir sy uitstallings by die Chelsea-skou in Engeland in 2010, 2012 en weer vanjaar. Leon is ‘n internasionaal bekroonde landskapontwerper, kunstenaar, botanis, aanbieder en skrywer. Hy is ook veral bekend vir die videos oor interessante plante en blomme wat hy op sosiale media plaas. Die opening deur Kluge vind plaas op 22 Augustus in die Blomkerk.

In lyn met die tema “Nostalgie” word daar vanjaar gemymer oor die blomskoue van toeka se dae, oor die vrywilligers wat die skou op die been gebring het en hoe die blomskou deur die jare ontwikkel en uitgebrei het. Foto’s van die eerste blomskoue wat destyds gebou is en van blomskoue deur die jare, sal ook uitgestal word.

“Kerkdienste is in die Blomkerk aangebied vanaf 1864 tot in 1964 en daarna het die kerkie in die hoofstraat van Clanwilliam die tuiste van die blomme geword. Dis met groot dankbaarheid en ‘n sterk gevoel van nostalgie wat ons terugkyk oor die jare van blomskou hou. Die blomskou word deur die jare deur vrywilligers uit die dorp geskep en dis aan hierdie vrywilligers wat ons hierdie jaar wil hulde bring. Dis ‘n unieke gebeurtenis wat so eie is aan Clanwilliam en ons is baie trots daarop,” vertel Erna du Plessis, voorsitter van Clanwilliam Veldblomvereniging.

Ons kontrei het lekker reën gehad, ons dam loop oor en ons bergpieke was onlangs spierwit van die sneeu. Dit beteken dat die kanse baie goed is vir ‘n goeie blomjaar. Die veld is grasgroen en met hierdie opvolgreen wat die afgelope paar weke uitgesak het, sal die veld binnekort sy heel beste voetjie voorsit.

Clanwilliam Veldblomvereniging beywer hulle baie sterk vir die bewaring en beskerming van die veldblomme van die streek en streef daarna om die publiek bewus te maak van die broosheid en skoonheid van die veldblomme tydens die blomskou. Die vereniging verleen ook advies en bystand aan Ramskop Natuurtuin, Clanwilliam se dorpstuin.

Blomkykers word sterk aanbeveel om ook Ramskop Natuurtuin, geleë op die wal van die Clanwilliam-dam, te besoek. ‘n Groep vrywilligers werk regdeur die jaar in die tuin en dit beloof om ‘n lushof te wees gedurende die lentemaande. Die tuin is in 1960 tot ‘n natuurreservaat geproklameer. Blomkykers kan die blomme geniet deur die talle voetpaadjies deur die tuin te bewandel. ‘n Magdom van plante en blomme kan hier van naderby bekyk word. Daar word ligte etes bedien in die kafeteria tydens blomtyd.

Die blomskou is oop op bogenoemde datums vanaf 08.30 tot 16.30 daagliks. Toegang beloop R80 per volwassene en R10 per kind.

Vir navrae oor die blomskou, bel die voorsitter, Erna du Plessis by 082-889-9555. Vir enige algemene navrae, bel Clanwilliam Toerismekantoor by 027-482-2024 of 078-766-0688.