June 5, 2024

Wian Smith Lei Implementering van Biologiese Middels vir Volhoubare Landbou in Vyeboom

Wian Smith

Wian is 14 jaar deel van die InteliGro-span met sy depot in Vyeboom, in die hart van die kernvrug- en wingerdverbouiingstreek in die Wes-Kaap.

“Biologiese middels moet deel van ‘n produsent se geïntegreerde benadering op die plaas wees wat beide sintetiese en biologiese middels insluit. Landbou is midde ’n transformasieproses en daarom het die manier waarop kos geproduseer word ook oor die afgelope paar jaar dramaties verander. Om in pas te bly moet ons as insetverskaffers voorlopers wees en met volhoubare oplossings na die produsent kan gaan,” sê hy.

Verskeie faktore dryf die implementering van biologiese middels in ’n gewasbeskermingsprogram, waaronder marktoegang en verbruikers se voorkeure. “Verbruikers en aankopers vereis minimum tot zero residuvlakke en die klem word verder al meer op nasporing geplaas in die “Farm to Fork”-benadering. Verder, soos die globale populasie vermeerder, is die druk op produsente al groter om gesonde en voedsame kos te voorsien,” verduidelik Wian.

Hy wys verder daarop dat daar n globale dryf is om die toediening van intetiese plaagdoders drasties te verminder, veral in Europese lande.

“Dit is ’n verdere rede waarom die bedryf baie fokus plaas op geïntegreerde en omgewingsvriendelike plaagbestuur.”

Die voordeel is egter ook dat geïntegreerde oplossings die produsent ondersteun om meer volhoubaar te boer terwyl die omgewing en ekosisteme beskerm word.

“Plaagbeheerprogramme wat biologiese middels insluit lei uiteraard na die gebruik van minder sintetiese chemiese middels, beter grondbiologie en gesonder grond vir verbeterde waterretensie en groeikragtigheid van plante, die beskerming van voordelige organismes en beter aanwending

van natuurlike predatore. Al hierdie elemente ondersteun gesamentlik landboupraktyke wat in balans met die natuur is,” sê hy.

Wian het aan die hand van ’n onlangse beheerprogram verduidelik hoe hy die biologiese oplossings implementering ervaar.

“In ons area is witluis en wollerige appelluis ‘n groot probleem en in die verlede het ons geweldig gesukkel om die populasie onder beheer te hou. Sowat vier jaar gelede het ons op geïntegreerde programme begin gefokus wat ’n sterk biologiese aanslag insluit en hande gevat met ander verskaffers en besigheidsvennote om die probleem aan te spreek. So het ons vennootskap met Andermatt Madumbi begin. Vandag sien ons werklik ’n verskil en is baie opgewonde oor die huidige resultate, en ook oor die toekoms.”

“Dit is egter nie voldoende om net produkte aan te wend nie. Dit bly krities belangrik dat die boorde gereeld gemoniteer word. Ons kan dit nie genoeg beklemtoon nie. Jy moet weet wat in jou boord aangaan sodat jy die geskikte regstellende stappe kan neem vir die beste resultate”

“Winsgrense word al hoe kleiner en daarom baseer ons by InteliGro ons aanslag op beginsel van “die regte produk, op die regte tyd, vir die regte rede”,” sluit Wian af.

Kontak Wian Smith: [email protected]