Terwyl die Suid-Afrikaanse Lipizzaners voortgaan om gehore te betower met hul grasieuse optredes, lê daar ‘n besondere verhaal agter hul deelname aan NAMPO Kaap 2024. Hierdie vennootskap is te danke aan die toewyding van Western Cape Lubricants en hul passievolle bestuurder, Alphonso Loots.
Alphonso Loots, Algemene Bestuurder van Western Cape Lubricants, het sy betrokkenheid by die pragtige en imposante South African Lipizzaners begin ná ‘n ontmoeting met Henk Aggenbagh, voorsitter van Bredasdorp Park NPC. Henk het Alphonso in 2023 genader om as borg op te tree vir die Lipizzaners by die Nampo Kaap Ekspo. Dit was ‘n geleentheid wat Alphonso se nuuskierigheid oor hierdie besondere perde gewek het. Hy was onmiddellik beïndruk met die Lipizzaners se indrukwekkende karaktereienskappe en die passie waarmee ruiters hulle bestuur.
Alphonso, wat self ’n boer is en perde op hul familie plaas aanhou, het gou die waarde en dieper betekenis van sy verbintenis met die Lipizzaners besef. Hy het gesien hoe die liefde vir perde ’n gemeenskaplike band skep in die landbougemeenskap, waar boere nie net vir hulle vee omgee nie, maar ook trots is op hul perde. Hierdie verbintenis het ook ‘n simboliese waarde vir Alphonso, aangesien dit hom verbind aan die groter landbougemeenskap en die gedeelde liefde vir diere.
Vanjaar het Alphonso besluit om Western Cape Lubricants se borgskap vir die Lipizzaners te verleng, aangesien die ervaring by Nampo 2023 hom diep geraak het. Die jaar 2024 is egter ’n spesiale een, aangesien Western Cape Lubricants hul 30ste bestaansjaar vier, net soos Bredasdorp Park NPC. Hierdie gedeelde mylpaal het ’n sterker verbintenis geskep, en Alphonso sien uit daarna om steeds betrokke te bly by die Lipizzaners deur sy borgskap.
Liefde vir Olie en Masjinerie
Alphonso Loots se betrokkenheid by die landbougemeenskap strek verder as net sy liefde vir perde. Sy familiegeskiedenis in die oliebedryf het begin met sy pa, ’n ingenieur en werktuigkundige by die Ford-fabriek in Pretoria. In 1994 het sy ouers die moedige stap geneem om hul eie besigheid, Western Cape Lubricants, te begin. Sedertdien het Alphonso grootgeword in ‘n wêreld van olie en masjinerie, wat sy passie vir hierdie bedryf verder gevoed het.
Western Cape Lubricants het van krag tot krag gegroei, met twee takke – een in Strand en die ander in Mosselbaai. Die besigheid se sukses lê in hul fokus op gehalte en kostebesparing vir hul kliënte, veral in die landbousektor. Alphonso verduidelik hoe hulle produk, spesifiek die Fuchs-reeks, boere help om oor tyd geld te bespaar.
Die lewensverwagting van Fuchs-olie is dubbel dié van mededingende produkte, wat beteken dat boere minder gereeld olie hoef te vervang. Dit verminder nie net die koste van die olie self nie, maar ook die stilstand van masjiene vir diens, maar ook wat implimente langer in produksie hou.
Alphonso se benadering tot besigheid is een van kwaliteit en langtermynwaarde. Hy glo dat boere se sukses afhang van betroubare produkte en dienste, en hy is trots daarop dat Western Cape Lubricants hierdie waarde bied. Dit is nie net ‘n besigheid vir Alphonso nie, maar ‘n manier om terug te gee aan die gemeenskap wat hy liefhet, of dit nou deur olie, masjinerie of die ondersteuning van die ikoniese Lipizzaners is.
Daaglikse Optrede
Moenie die daaglikse vertonings in die Western Cape Lubricants Arena misloop nie.
Die Lipizzaner-vertonings vind plaas op:
- Woensdag, 11 September 2024: 10:00 – 11:00 en 14:00 – 15:00
- Donderdag, 12 September 2024: 10:00 – 11:00 en 14:00 – 15:00
- Vrydag, 13 September 2024: 10:00 – 11:00 en 14:00 – 15:00
- Saterdag, 14 September 2024: 10:00 – 11:00
Kom en aanskou die grasie, krag en skoonheid van hierdie ongelooflike perde.
Verseker vandag nog jou kaartjies en wees deel van ‘n onvergeetlike ervaring! Toegangskaartjies is aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za.