Die Wes-Kaap Jeugskou-kampioenskappe het onlangs op Bredasdorp plaasgevind, waar sowat 200 leerders van regoor die Wes-Kaap deelgeneem het. Hierdie prestige-geleentheid is aangebied deur Agri-Expo in vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Landbou en Hollard.
Na ‘n spannende kompetisie is 103 leerders gekies om die provinsie by die SA Jeugskou Kampioenskappe, wat plaasvind in Middelburg, Transvaal vanaf 22 – 25 September, 2024 te verteenwoordig.
Leerders het in drie ouderdomsgroepe en 15 verskillende afdelings meegeding. Daar was ook ‘n kategorie vir die twee leerders van die Pioneerskool. Die leerders het die afgelope 12 maande op agt streekskoue gekwalifiseer vir hierdie kampioenskap. Hierdie geleentheid het deelnemers van regoor die provinsie saamgebring om hul vaardighede in verskeie kategorieë, soos vleisbees, perde, pluimvee, wolskape, konyne, en afslaers, te demonstreer.
Hierdie kompetisies bied nie net ‘n platform vir jongmense om hul vaardighede te toon nie, maar dien ook as ‘n geleentheid om talent vir die nasionale kompetisie te identifiseer.
Met die George Jeugskou op 29 Augustus, Moorreesburg op 4 September, Nampo Kaap op 14 September, en Villiersdorp Skou wat op 12 Oktober gehou word, is daar groot opwinding vir die res van die jaar.