NAMPO Kaap, wat vanjaar sy vyfde verjaarsdag vier, word van 11 tot 14 September 2024 in Bredasdorp aangebied deur SA Graan. Hierdie ekspo, wat as een van die hoogtepunte in die landboukalender beskou word, bring die hele landbou-waardeketting bymekaar op ‘n kragtige platform.
Die belangrikheid van NAMPO Kaap kan nie oorbeklemtoon word nie. Volgens Philip Morkel, ondervoorsitter van NAMPO Kaap, is landbou die fondasie van alle bedrywe in Suid-Afrika, en NAMPO Kaap speel ‘n onmisbare rol in die ondersteuning daarvan. Hy beklemtoon die groot impak van die ekspo op Bredasdorp en die omliggende gebiede, en noem dit van onskatbare waarde.
Henk Aggenbach, voorsitter van NAMPO Kaap, sluit by hierdie sentiment aan en wys op die ekonomiese inspuiting wat die ekspo jaarliks in die omgewing bring. Hy verduidelik dat die terugvoer van uitstallers daarop dui dat NAMPO Kaap ‘n terugploeg van tussen R10 miljoen en R12 miljoen vir die Overberg verseker, terwyl die Overberg-distriksmunisipaliteit se opnames toon dat dit kan wissel tussen R15 miljoen en R25 miljoen.
Geskiedenis
Uit ‘n nederige meganisasiedag wat 30 jaar gelede begin het, en met net tien uitstallers, ’n tent en ’n braaidrom – ’n regte plattelandse boeredag – het ‘n passie en entoesiasme gegroei tot die suksesvolle NAMPO Kaap Ekspo in 2023 met 34 635 besoekers en 516 uitstallers.
Die verhaal van NAMPO Kaap begin 30 jaar gelede in Februarie 1994 met ‘n beskeie meganisasiedag in Bredasdorp. Wat begin het met net tien uitstallers en ‘n handjievol besoekers, het ontwikkel tot ‘n toonaangewende landbou-ekspo met meer as 500 uitstallers en duisende besoekers elke jaar. Die inisiatief was die breinkind van die Bredasdorp Landbougenootskap wat ‘n platform wou skep waar boere en die breër landbousektor nuwe tegnologie en praktyke kon verken.
In 1994 het tegnologie so vinnig begin verander dat boere ‘n behoefte gehad het om die Wes-Kaapse eie soortige meganika op eie bodem te kon besigtig. ‘n Groep jongboere onder leiding van Niel Gilomee het die bul by die horings gepak en ‘n steil bult begin klim. Die visie was ‘n samekoms waar jy kon sien, leer, ervaar, kennis uitruil, en daardeur ‘n netwerk stig. “Die unieke samestelling van die Wes-Kaapse landbou moes weerspieël word, van graan, wingerd, sitrus, fynbos tot vee, met ons eie unieke ingesteldheid.”
Ondersteuning en Volgehoue Sukses
Henk Aggenbach verduidelik verder dat die volgehoue sukses van die ekspo te danke is aan die sterk ondersteuning van georganiseerde landbou. “Lede van boereverenigings, Graan SA en Agri Wes-Kaap het vanaf die begin saamgewerk om hierdie geleentheid te verseker,” het hy gesê. Die ekspo is steeds nie in privaat besit nie, en die meeste bestuurslede verdien nie salarisse nie. “Dit is ‘n liefdeswerk,” het Aggenbach beklemtoon.
Wat ons te wagte kan wees by NAMPO Kaap 2024?
NAMPO Kaap 2024 belowe om ‘n indrukwekkende reeks vertonings en aktiwiteite te bied. Die buitelugterrein is vergroot met 28 nuwe uitstalruimtes, terwyl die binnenshuise areas reeds vol bespreek is in 2023 vir 2024.
Een van die opwindende nuwe toevoegings is die Greenworks Demonstrasie Baan, waar battery-aangedrewe voertuie getoets en gedemonstreer sal word. Besoekers kan ook uitsien na die SA kampioenskap vir skaaphonde en hul hanteerders in aksie in die BKB-veesentrum. Die grasieuse Lipizzaner perde sal weer besoekers betower met hul passies in die Western Cape Lubricants Arena.
Die vroueprogram en die fynbos-ekspo sal verseker dat daar iets is vir almal. Bekende landskapargitek Jan Hagen en fynboskenner Marojolijn Malan sal deel wees van die program, saam met skoonheidsterapie-werkswinkels deur Jenna de Wet. Dit sal verseker dat die vroue wat NAMPO Kaap bywoon, hul mans vra om nog ‘n bietjie langer te bly!
NAMPO Kaap bied ook ‘n unieke geleentheid vir skole om betrokke te raak. Leerders kan die jongste landboutegnologie en -bestuur in aksie sien, en leer hoe dit wat hulle in die klaskamer leer, in die praktyk toegepas word. Verder sal daar ‘n veeras-uitstalling wees met sewe beesrasse en tien klein veerasse.
Met sowat 530 maatskappye wat uitstal, bied NAMPO Kaap ‘n breë spektrum van die nuutste landboutegnologie. Dit sluit ook stalletjies in wat op die jonger geslag en stedelike besoekers gemik is. Daar sal voldoende eetplekke oor die 25 hektaar area versprei wees, en die opbrengs hiervan sal gedeel word met gemeenskapsprojekte wat die platteland ondersteun.
NAMPO Kaap 2024 is dus meer as net ‘n ekspo; dit is ‘n viering van die landboubedryf en ‘n toonbeeld van wat deur passie en samewerking bereik kan word.
Sien jou by Nampo Kaap, 11 – 14 September 2024
Toegangskaartjies is aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za, met afslag op toegangsfooie vir aanlynaankope, teen R80 vir volwassenes en R50 vir skoolgaande kinders. Kaartjies by die hekke sal te koop wees teen R100 vir volwassenes en R50 vir kinders. Voorskoolse-kinders kom gratis in. NAMPO Kaap duur van Woensdag, 11 tot Vrydag, 13 September van 08:00 tot 17:00 en Saterdag, 14 September van 08:00 – 14:00. Besoekers kan die Kaap Agulhas Toerismekantoor kontak vir verblyf by 028 424 2584 / 082 896 2225 of www.overberg-info.co.za