12.1 C
Cape Town
Friday, September 19, 2025

Francois Rossouw van Mooigezicht Estates bekroon as Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar 2025

FarmingFrancois Rossouw van Mooigezicht Estates bekroon as Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar 2025

Francois Rossouw (30), van Mooigezicht Estates in die Hexriviervallei, is op 11 Junie 2025  tydens ‘n spoggeleentheid by die Ashanti-landgoed as die Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar 2025 aangewys. Hy is uit agt sterk finaliste gekies en sal die Wes-Kaap later vanjaar verteenwoordig in die nasionale Toyota SA/Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie.

Rossouw boer met tafeldruiwe op 310 hektaar by Mooigezicht Estates en beskik reeds oor meer as ses jaar se ervaring in die bedryf. Sy aanwysing as wenner is nie net ‘n erkenning van sy boerderyvernuf nie, maar veral van sy unieke leierskapstyl, aanpasbaarheid en sy diepgewortelde toewyding aan mense-ontwikkeling en volhoubare landbou.

Leierskap wat inspireer

Volgens Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, is Francois die soort jong boer wat hoop gee vir die toekoms van landbou. Sy bestuursbenadering by Mooigezicht Estates sluit presisieboerdery, gevorderde tegnologie, spanontwikkeling en gemeenskapsbetrokkenheid in. “Hy toon ‘n buitengewone balans van kundigheid en menslikheid en is ‘n waardige ambassadeur vir ons provinsie,” sê Strydom.

Inus Oosthuizen, sameroeper van die beoordelingspaneel, het Rossouw se geïntegreerde bestuursvernuf en mense-gesentreerde fokus uitgelig. “Van grondontledings en geoutomatiseerde besproeiing tot gemeenskapsdiens en geloofsgebaseerde waardes – hy bestuur met hart én kop,” het Oosthuizen verduidelik. Sy deelnemende bestuursstyl stel hom in staat om saam met sy span by Mooigezicht Estates besluite te neem en hulle deur uitdagende tye te lei.

Veerkragtigheid in die gesig van uitdagings

Die afgelope drie jaar is Mooigezicht Estates deur verskeie uitdagings gekonfronteer, insluitend verwoestende haelstorms. Tog het Rossouw bewys dat hy oor die strategiese insig en aanpasbaarheid beskik om vinnig by veranderende marktoestande aan te pas. Hy het internasionale markstrategieë herstruktureer en sy bedryf veerkragtig en mededingend gehou.

Vir Rossouw is hierdie toekenning nie net ‘n persoonlike prestasie nie, maar ‘n huldeblyk aan sy span, familie en geloof. “Ek glo ons boerdery is ‘n roeping, en dit gee vir my ‘n rede om as vierde geslag steeds aan te hou,” het hy gesê. Hy beklemtoon verder die belangrikheid van boerdery as ‘n middel om werkloosheid te bekamp en ekonomiese groei in landelike gemeenskappe aan te wakker deur jeug- en werksgeleenthede te skep.

‘n Toekomsvisie vir volhoubare groei

Rossouw se visie strek veel verder as sy huidige boerdery-aktiwiteite op Mooigezicht Estates. Hy beoog om bemagtingsinisiatiewe en sosiale ontwikkelingsprojekte vir plaaswerkers en hul kinders verder uit te brei, asook om ‘n nie-winsgewende organisasie te vestig wat onderwys en ontwikkeling in sy gemeenskap sal bevorder.

Agri Wes-Kaap het Rossouw gelukgewens en hom alle sterkte toegewens met die nasionale kompetisie. Sy voorbeeld dien as inspirasie vir jong boere regoor die land, wat wys hoe volhoubare, mense-gesentreerde boerdery die pad na die toekoms is.

Check out our other content