Vanaf Woensdag 3 tot Saterdag 6 September 2025 word die 91ste Swartlandskou aangebied op die Moorreesburgskougronde. Hierdie vierdaagse skou is veel meer as net ’n landbouskou – dit is ’n fees van landbou, sake en vermaak. Besoekers kan uitsien na wêreldgehalte uitstallings, lewendige demonstrasies, gesinsvriendelike aktiwiteite en ’n splinternuwe kinderarea. Markstalletjies, ’n troetelplaas, restaurante en die bekende wyntuin dra verder by tot die warm, feestelike atmosfeer.
Landbou en kompetisie-hoogtepunte
Die landbou-afdeling bied verskeie kampioenskappe en demonstrasies. ’n Groot trekpleister is die skaapskeerkampioenskap op Saterdag 6 September, waar die land se eie skaapskeerkoning, Tinus du Plessis, sy vaardighede ten toon stel. Hy het saam met Aidan Copp van Nieu-Seeland op 22 April 2025 ’n wêreldrekord opgestel toe hulle 970 Merino-lammers in net 9 uur geskeer het – ’n prestasie wat internasionale aandag geniet het.
Beesboere kan hul rasse wys met agt vleisbeesrasse wat meeding om titels soos Senior Kampioen Bul, Senior Kampioen Koei en Opperste Ras Kampioen. Die Romagnola maak vanjaar sy debuut, terwyl bekende rasse soos Herefords, Simmentalers, Angus (rooi en swart), Santa Gertrudis, Charolais en Sussex ook uitgestal word.
Die Jeugskou, wat Woensdag 3 September afskop, lok meer as 250 jong skoumanne wat aan 16 dissiplines deelneem. Nuwe items soos kulinêre kuns, fotografie en suiwelbereiding bring vars opwinding. Die Swartlandskou is onlangs deur die Agri-Expo kongres bekroon as Beste Jeugskou-aanbieder – ’n mylpaal wat sy jeugfokus beklemtoon.
Vir perdeliefhebbers bied die Vlaamperd SA Kampioenskappe, die SA Saalperd Kampioenskap en die jaarlikse 8-span wa-perdvertoning op Saterdag ’n onvergeetlike ervaring.

Vermaak en familiepret
Damesdag op Woensdag 3 September is een van die gewildste gebeurtenisse van die skou en lok jaarliks meer as 500 gaste. Dit is ’n dag gevul met inspirasie, mode, geselskap en heerlike kos. Boys R Back sorg vir nostalgiese musiek, terwyl Lizz Meiring haar gewilde eenvrou-vertoning aanbied.
Die nuwe kinderpretarea beloof om jong besoekers te vermaak met aktiwiteite soos bungee-trampolien, paintball, springkastele en trapkarre.
Musiekliefhebbers kan vanaf Donderdagaand uitsien na optredes van plaaslike kunstenaars. Die program sluit in Wynand en Chereé, Brendan Peyper, Chris Rain, Irene-Louise van Wyk, ONS en vele meer. ’n Tentedorp op die terrein maak voorsiening vir kamp-akkommodasie sodat feesgangers en uitstallers die atmosfeer ten volle kan geniet.
Landbou se toekoms en gemeenskapsbetrokkenheid
Die landbou-oggend op Vrydag 5 September fokus op die tema “Boerdery se Toekoms – Ons skei die koring van die kaf.” Bekende sprekers soos Theo Vorster, Prof. Johan Fourie, Tobias Doyer en JP Landman sal besoekers inspireer en waardevolle perspektiewe deel oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika.
Die Swartlandskou is reeds 91 jaar lank moontlik gemaak deur die ondersteuning van borge, vennote en donateurs. Die organiseerders benadruk dat die plaaslike gemeenskap ’n onmisbare rol speel en die ware hart van die skou is. Besoekers word aangemoedig om kaartjies vooraf aanlyn via TIXSA te koop en meer inligting op die webwerf te kry by www.swartlandskou.co.za.