July 21, 2024

Swartlandskou Vier 90 Jaar van Landbou en Gemeenskapstrots in Moorreesburg

In die hartjie van die Swartland vier die grootste landbouskou in die Wes- en Suid-Kaap vanjaar sy 90ste bestaansjaar met ‘n program vir die hele gesin. Swartlandskou Moorreesburg sal van Woensdag 4 tot Saterdag 7 September 2024 die beste uit dié geweste aan 20 000 besoekers bekendstel. Die skou, met Afgri as ankerborg, is bekend vir top perde, beeste, skape en pluimvee, asook ‘n masjienerie-uitstalling van R230 miljoen.

Swartlandskou Swartlandskou

Die ‘cool’ van landbou: Van 8-span waperde tot ‘n skaapskeer-nuutjie

Die skouprogram bars vanjaar uit sy nate met landbou- én leefstylaktiwiteite. Swartlandskou spog met die grootse vleisbeesskou in die Wes- en Suid-Kaap, met sowat 400 diere wat om gesogte titels meeding.  ‘n Kleinvee-nuutjie is die Swartlandskou Skeerkampioenskappe. Besoekers kan uitsien na die BKB & FNB Slaglamkompetisie, Merino-kampioenskappe, die SA Vleismerino Super 10-kampioenskappe en die OVK-Interrasuitstalling. Meer as 400 wa-perde sal ten toon gestel word met die 8-span waperde as ‘n hoogtepunt. Sowat 230 leerders sal aan die Streek Jeugskou deelneem en die Wes-Kaap Pluimveeklub sal vir ‘n pluimvee-tentoonstalling sorg.

Die musikante Jay, Chris Else, Viljoen Retief, Dodo Nyoka, Jan Rhaap en ander sal optree, terwyl die AFGRI-damesdag met Marciel Hopkins as gasspreker en ‘n landbou-oggend met Theo Vorster as gespreksleier interessante ervarings beloof. Die kleingoed kan uitsien na ‘n kulkunstenaar, ‘n dansskool, Lollos en ‘n speelpark met toesig.

Volgens die President Jacques Bester is Swartlandskou ‘n sukses danksy noue samewerking tussen die gemeenskap en besighede. “Kom ervaar plattelandse geselligheid en kom deel in die ‘cool’ van landbou,” nooi Bester.

Toegangskaartjies sal by Ticketpro en by die hekke beskikbaar wees.
Vir meer inligting, besoek www.swartlandskou.co.za