Die Saai Karoo Landbouskou vind op 24 en 25 Oktober 2025 plaas op die Laingsburg sportgronde, en beloof om ’n onvergeetlike ervaring te wees vir elkeen wat landbou, kultuur en gemeenskap waardeer. Met ’n propvol program en uiteenlopende aktiwiteite is hierdie skou veel meer as net ’n uitstalling – dit is ’n fees van samekoms en trots.
Die geleentheid begin met ’n amptelike opening deur die Wes-Kaapse Minister van Landbou, Dr. Ivan Meyer, gevolg deur ’n invloedryke paneelbespreking met onder andere Dr. Theo de Jager, Dr. Dirk Troskie en Heinrich Wyngaard, met Amore Bekker as fasiliteerder. Daarna volg ’n fees van vermaak met kunstenaars soos W.G. Nel, TiNO, Wilbur en Jay. Die “Laingsburg Got Talent”-kompetisie, Mej. Landbou, en ’n volledige jeugprogram sorg vir iets vir almal.

Aktiwiteite vir elke smaak
Pret en kompetisie gaan hand aan hand met die “Op die Kole” braaikompetisie, die wolbaaldra-kampioenskap en die Sterkman van die Karoo-uitdaging. ’n Gesamentlike kerkbasaar en ’n pretloop bring ’n ligter noot, terwyl feesgangers ook kosstalletjies, plaasprodukte en plaaslike kunsvlyt sal kan geniet.
Landbou en leerders in die kollig
Die BKB-veeveiling, opleiding vir kleinboere, en uitstallings van tegnologie en landbou-innovasie bring ’n waardevolle netwerkgeleentheid vir boere en besighede. Die jeug word aktief betrek met ’n patente-kompetisie tussen landbouskole en opvoedkundige aktiwiteite wat jong boere toerus. Met besigheidsverteenwoordiging en insetverskaffers op die terrein, vorm dié skou ’n spilpunt van kennis en toekomsgerigte ontwikkeling.
Met sy balans van plaaslewe, kultuursake, en vermaak, is die Saai Karoo Landbouskou ’n geleentheid wat werklik iets vir almal bied.
Vir meer inligting skakel Helene Coetzee – 082 447 5052