Die Saai Karoo Landboufees vind op 24 en 25 Oktober 2025 op Laingsburg plaas en beloof om boere, gemeenskappe én jong leerders byeen te bring vir twee dae van kennis, inspirasie en kuier. Die fees, wat vanjaar vir die vierde keer aangebied word, is reeds ’n gevestigde hoogtepunt op die landboukalender.
Die fees word Vrydagmiddag amptelik geopen deur die Wes-Kaapse Minister van Landbou, dr. Ivan Meyer. Daarna neem hy saam met dr. Theo de Jager en dr. Dirk Troskie deel aan ’n gespreksforum oor “Landbou in die nuwe globale landskap – uitdagings en geleenthede”, met Heindrich Wyngaard as fasiliteerder. Hierdie gesprek bring beleidsmakers, kenners en boere byeen – ’n waardevolle geleentheid om nuwe insigte te verkry en oplossings te deel. Amore Bekker bied die damesoggend aan.
Landbou, tegnologie en jeug in die kollig
KKSK bied ’n addisionele inligtingsessie vir produsente aan, met spesiale fokus op die vinnig-groei-ende uiebedryf in die Karoo. Meer as 60 uitstallers, insluitend van die land se voorste maatskappye, gaan hul jongste produkte en tegnologiese oplossings bekendstel. Dit verseker dat boere in die platteland ingelig bly oor die nuutste wetenskaplike en praktiese ontwikkelings in landbou.
Die jong boere van môre kry ook die kollig: die Departement Landbou Wes-Kaap bied praktiese demonstrasies en opleidingsessies aan jong leerders, terwyl die drie grootste landbouskole in die provinsie meeding met hul eie patente en modelle. Hierdie kompetisie dien as duidelike bewys dat landbou-innovasie reeds diep onder jongmense gewortel is.
Benewens die landbouprogram wag daar ’n fees van kos, vermaak en Karoo-gasvryheid op besoekers. Dit is die ideale geleentheid om saam met familie en vriende ’n dag of die hele naweek te kom geniet. Saai se betrokkenheid onderstreep hul missie: om die familieboer op die plaas en in die gemeenskap te hou.
Vir meer inligting kontak Ronika Groenewald by 083 483 0163