17.9 C
Cape Town
Saturday, January 17, 2026

Nampo 2025: Plaaslike landbou ontmoet wêreldklas tegnologie

EventsNampo 2025: Plaaslike landbou ontmoet wêreldklas tegnologie

Van 13 – 16 Mei 2025 gaan Nampo Park, Bothaville weer die tuiste wees van die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond. Dit is die 57ste aanbieding van die ikoniese Nampo Oesdag wat vanjaar die tema “Globale Landbou, Plaaslik!” dra – ’n gepaste boodskap vir ‘n sektor wat al hoe meer wêreldgebonde raak, maar steeds sterk plaaslik geanker is.

Die Nampo Oesdag is sedert 1967 ‘n hoeksteen van die Suid-Afrikaanse landboukalender. Wat begin het met 200 produsente op ‘n plaas buite Bloemfontein, het gegroei tot meer as 920 uitstallers wat nou hul produkte en dienste oor 40 ha van Nampo Park ten toon stel. Dit is meer as net ’n uitstalling – dit is ’n dinamiese sakeplatform waar tegnologie, kennis en kommersiële interaksie saamvloei.

Photo credit: Graan SA

Toegang tot kennis, netwerk en oplossings

Nampo 2025 is veel meer as net ‘n uitstalling – dit is ’n strategiese platform waar boere toegang kry tot die jongste tegnologie, kundigheid en oplossings wat direk in hul boerderypraktyke toegepas kan word. Met meer as 920 uitstallers kan produsente self gaan kyk wat werk, pryse vergelyk en reguit met kundiges praat wat oplossings bied.
Produksiespesifieke areas soos die Yara-beeskompleks, BKB-skaapkompleks en die TAU Veevoer-arena verskaf waardevolle insigte in stamboerdery, wolklassifisering, skeertegnieke en voedselaanvullings. Of jy kom om navorsing te doen, aankope te beplan, inspirasie te kry of met ander in gesprek te tree – Nampo bly die eenstopgeleentheid vir elke ernstige produsent in Suid-Afrika.

Masjinerie is een van die grootste trekpleisters. Besoekers kan die nuutste landboutoerusting, werktuie en meganiese oplos-sings sien in werklike aksie – van reusesaaiers en presisietrekkers tot demonstrasies van plant- en oesmeganisasie.
Hoogtepunte

Nasie in Gesprek: ’n Reeks paneelgesprekke oor sleutelkwessies in landbou word aangebied, waar kenners en besluitnemers perspektief bied oor uitdagings en geleenthede in die sektor. Onderwerpe sluit in verkiesings, landbou-ondersteuningsdienste en veerkragtigheid tydens verandering. Bekendes soos Waldimar Pelser, Wandile Sihlobo en Moeletsi Mbeki neem deel.

Uitstallings en demonstrasies: Van Standard Bank se 4×4-baan tot Dry Ice se vriesbrand-demonstrasies, sowel as die veekomplekse vir bees en skaap waar besoekers lewendehawe kan sien en leer oor wolhantering en skeertegnieke.
Vroueprogram: Gehou langs die teetuin, met optredes, inspirasie en kosdemonstrasies van bekende persone soos Amore Bekker, Carli Pienaar, Ewan Strydom en sjefs soos Nadine Vosloo.

Photo credit:  Graan SA
Photo credit: SA Graan

Nuwe toevoegings

Vanjaar is daar ‘n paar opwindende toevoegings tot die program:

KamersMakers: In ’n spesiale area van 200 m² op die terrein maak die gewilde KamersMakers vanjaar vir die eerste keer sy verskyning by Nampo. Hier sal keurig saamgestelde produkte – van handgemaakte kuns en dekor tot leefstyl items – aangebied word. Uitstallers vorm deel van hierdie unieke ervaring en sal hul stalletjies in dié area oprig.

Graan SA Museum: Die museum word aan die westekant van die terrein opgerig en neem besoekers op ’n reis deur die geskiedenis en groei van Nampo en Graan SA.
Plaaskombuis: Die gewilde Syngenta Boerekos Plaaskombuis is groter en lekkerder, met disse saamgestel deur Arina du Plessis en voorberei deur The Roots Academy. Van platbrood met gepluiste beesvleis tot varknekburgers – dis ‘n kulinêre fees.

Besoekersinligting

Digitale hulpmiddels: Die Nampo 2025-toep help besoekers om hul ervaring te beplan, stalletjies op 3D-kaarte te verken en selfs video’s te kyk van wat by uitstallers aangaan. Die toepassing is beskikbaar vir aflaai op jou selfoon en bied ook roetebeskrywings, parkeerinligting en toegang tot die volledige program. Nampo 2025 beloof weer om nie net die grootste, maar ook die mees betekenisvolle bymekaarkomplek vir die plaaslike landbougemeenskap te wees.

Vir meer inligting besoek www.nampo.co.za

Check out our other content