Koolhidrate speel ‘n deurslaggewende rol in die fisiologie van vrugtebome, veral in die prosesse van groei, ontwikkeling en vrugteproduksie. Die biomolekules dien nie net as energiebronne nie, maar vorm ook strukturele komponente wat noodsaaklik is vir die vorming van vrugte en die algemene gesondheid van die boom. Daarbenewens is ‘n begrip van alternatiewe drag – waar vrugtebome sikliese variasies in vrugteproduksie toon – van kardinale belang vir die optimalisering van opbrengste en die versekering van volhoubare landbou.
Alternatiewe dragpatroon van vrugtebome verwys na die neiging van sommige vrugtebome om in een jaar ‘n oorvloedige produksie van vrugte te hê, gevolg deur ‘n jaar van beperkte of geen produksie. Hierdie fenomeen kan lei tot onvoorspelbare marktoegang en uitdagings vir volhoubare landboupraktyke. Die alternatiewe dragpatrone kan veroorsaak word deur ongunstige omgewingstoestande soos rypskade. Dit kan totale vrugteverlies in een jaar veroorsaak en dan die daaropvolgende jaar die boom weer ’n te swaar oes laat dra en die siklus van aan- en afjare induseer.
Sulke alternatiewe dragpatrone kan bestuur word deur boordpraktyke soos uitdun en snoei, asook voedings- bestuur van daardie boorde.
Deur hierdie faktore te verstaan en te bestuur, kan produsente meer voorspelbare en volhoubare opbrengste behaal, wat bydra tot die ekonomiese lewensvatbaarheid van boordstelsels en die algemene volhoubaarheid van landboupraktyke. Die bestuur van alternatiewe drag in vrugtebome is ‘n komplekse taak wat verskeie strategieë behels.
Sleutelpraktyke sluit die volgende in:
HORTOLOGIESE PRAKTYKE
Blomuitdunning:
Deur oortollige blomme te verwyder, kan die potensiële vruglading verminder word, wat die koolhidraattoewysing tussen die oorblywende blomme en vrugte help balanseer.
Vruguitdunning:
Die vroeë verwydering van oortollige jong vrugte in die seisoen verseker dat die oorblywende vrugte voldoende hulpbronne ontvang, wat die algemene gehalte en grootte van die vrugte kan verbeter.
Boorduitleg en opleistelsels:
Korrekte ryrigtings, plantspasiëring en opleistelsel dra by tot groei, effektiewe lighuishouding en dra-kapasiteit van plante, almal krities tot die skep van dra-posisies en volume vrugte wat geproduseer kan word per vierkante meter oppervlakte.
SNOEI
Gereelde snoei op kritiese tye help om die balans tussen vegetatiewe groei en vrugteproduksie te handhaaf. Dit moedig die ontwikkeling van nuwe lote en blomknoppe aan, terwyl ou of nie-produktiewe takke verwyder word, wat sodoende energie aan die boom se vrugteproduksie toewys. Snoei speel ‘n groot rol in sonligbestuur wat weer invloed het op vrugbaarheid en posisies van dra-eenhede in plante.
BESPROEIINGSBESTUUR
Konsekwente en voldoende watervoorsiening is krities, veral tydens belangrike groeistadiums soos blom, vrugset en vrugontwikkeling. Waterstres kan die siklusse van alternatiewe drag vererger, dus is dit belangrik om ‘n goeie besproeiings- strategie te implementeer.
SELEKSIE VAN PLANTMATERIAAL EN ONDERSTAMME
Seleksie van variëteite
Teling en seleksie van variëteite wat ‘n laer geneigdheid tot alternatiewe drag het, kan ‘n langtermynoplossing bied. Selekteer vir variëteite wat minder neigings het tot alternatiewe dragpatrone. Keuses ten opsigte van kultivar- en onderstam- groeipatrone en vrugbaarheid kan ‘n beduidende impak hierop hê.
VOEDINGSBESTUUR
Die verskaffing van gebalanseerde voeding, met ‘n spesifieke fokus op stikstof, fosfor, kalium, kalsium magnesium en mikro-elemente, grond- asook blaar-toegedien in tye waar wortelopname voedingstowwe beperk, ondersteun konsekwente fotosintese en vrugteproduksie. Voldoende bemesting help om voedingstofreserwes aan te vul wat tydens swaar vrugtejare uitgeput mag word.
Dit is belangrik om die plante te help ten tye van swaar drag op bome om te verseker dat genoegsame koolhidrate vir reserwes in bas en hout beskikbaar is vir voedingvoorsiening gedurende die blomperiode voor wortel voedingstof opname begin plaasvind tydens loot groei periode.
Die gebruik van biostimulante om plantvoeding-element gebruik te verbeter (NUE -Nutrient Use Efficiency), word al hoe belangriker om opbrengs per kg voedingstof toegedien te verhoog.
Die gebruik van grond-, blaar-, water-, sap- en koolhidraat- ontledings speel ‘n groot rol om’n voedingsprogram effektief te bestuur deur die groeiseisoen.
PLANTGROEIREGULEERDERS
Biostimulante en groeireguleerders
Die toediening van plantekstrakte asook sintetiese groei- reguleerders kan help om blom- en vrugteontwikkeling te reguleer, wat moontlik alternatiewe drag kan versag.
Deur hierdie benaderings te kombineer, kan produsente effektief alternatiewe drabestuur en die volhoubaarheid van boerderystelsels verbeter. InteliGro volg ’n holistiese strategie om koolhidrate optimaal te bestuur. Kontak gerus die InteliGro landboukundiges en Gewas Adviseurs vir meer inligting en ondersteuning.
Vir meer inligting besoek www.inteligro.co.za