18.7 C
Cape Town
Thursday, January 15, 2026

Groblershoop se Neutfees plant hoop vir blink toekoms

NewsGroblershoop se Neutfees plant hoop vir blink toekoms

Op 21 Junie 2025 het , ’n landbougemeenskap langs die Oranjerivier naby Upington in die Noord-Kaap, geskiedenis gemaak met die eerste Neutfees wat op die plaas Sewenster gehou is – ’n viering van harde werk, hoop en trots.

Die boere van die streek het hierdie fees begin om hul harde werk in die pekanneutbedryf te vier, plaaslike trots te bou, hul streek as landbougebied te bemark en groter bewusmaking oor hul produkte te skep – plaaslik én internasionaal. Dit was ’n kans om die hele gemeenskap te betrek, jong boere te inspireer, en nuwe moontlikhede vir groei en samewerking te skep.

’n Fees wat begin het met spanwerk en erkenning

Die Neutfees het op 20 Junie afgeskop met ’n sportdag vir plaaswerkers – ’n dag vol sport, pret en erkenning vir die boere en werkers wat elke dag hard werk op die omliggende plase. Die dag het nie net gesorg vir gesonde kompetisie nie, maar ook vir saamkuier en versterking van spanwerk. Saam het hulle gespeel, wat ’n sterk gevoel van eenheid geskep het om die Neutfees vol energie af te skop.

Foto: Matia van der Merwe

Brunch met Dawie Roodt: Ekonomie en insig

Die feesprogram het op Saterdagoggend afgeskop met ’n spesiale brunch saam met ekonoom Dawie Roodt, waar hy ’n insiggewende gesprek met die boeregemeenskap gevoer het. Hy het gepraat oor die wêreldekonomie en die bydrae wat ’n streek soos Groblershoop tot dié groter prentjie kan bydra – veral as produsente van uitvoerprodukte soos pekanneute.

Roodt het daarop gewys dat verbruikerspatrone wêreldwyd verander: mense raak ouer, leefstyle verander, en daarmee saam verander ook wat en hoe hulle koop. “Wanneer jy na uitvoer kyk, moet jy nie net kyk na lande nie – jy moet kyk na die mense dáár,” het hy gesê. “Demografie maak saak. Wie koop? Wat soek hulle? Jy kan nie produseer sonder om te weet wie jou kliënt is nie.”

Hy het lande soos Indië uitgesonder as ’n opkomende mark met ’n jong, groeiende bevolking en toenemende koopkrag. China bly belangrik, maar die dinamika daar is besig om te verskuif. Europa verouder vinnig, maar het geld en gesofistikeerde smaak. Daar is groot geleenthede vir boere wat hul markte verstaan en aanpas.

Wat jy moet doen om deel te wees van ’n moderne ekonomie

Roodt het sy gesprek afgesluit met ’n sterk boodskap aan boere, jong mense en entrepreneurs: “As jy wil deel wees van ’n moderne ekonomie, moet jy die regte vaardighede hê. Jy moet tegnologie jou eie maak, jy moet toegang tot die internet hê, en jy moet die regte strukture in plek kry. Dan kan jy van enige plek af met die wêreld sake doen.”

Hy het verder verduidelik dat moderne landbou nie net oor grond en arbeid gaan nie, maar oor bestuur, inligting, toegang en aanpasbaarheid. “Dit help nie jy het ’n goeie produk, maar weet nie wie dit koop, hoe om dit te bemark, of hoe om dit professioneel aan te bied nie. Dis nie meer genoeg om net te boer nie – jy moet ’n besigheid wees.”

Na die brunch met Dawie Roodt het boere en ander feesgangers die stalletjies besoek, plaaslike produkte geproe en belangstelling getoon in die demonstrasies waar gewys is hoe pekanneute gekraak, gegradeer en verpak word. Hulle kon self sien hoe die proses werk.

Demonstrasies

Foto: Johan Dreyer

Daarna het die fokus na die boorde verskuif, waar Rovic en ander vervaardigers hul spuitmasjiene gedemonstreer het. Hier kon boere self sien hoe die toerus ting werk, watter oplossings dit vir hul eie boerderypraktyke bied, en dat hul produkte plaaslik beskikbaar is.

Terugvoer en vooruitsigte

Die boere van Groblershoop is oortuig dat hulle in die middel van een van die mees geskikte plekke in die wêreld is om pekanneute te verbou. Na die sukses van die eerste Neutfees en die baie positiewe terugvoer is die Groblershoop Boerevereniging opgewonde oor die volgende stap – die beplanning van die 2026 Pekan Plaasfees.

Andre Smith, eienaar van Plaas Sewenster, sê: “Dit is nie net ’n viering van die pekanneutbedryf nie, maar ’n plek waar boere hunker na egte gesprekke, betroubare inligting en ’n rustige plaasatmosfeer waar hulle gemaklik kan leer, kuier en geniet. Ons is trots op ons klein, hegte gemeenskap. Hier maak ons tyd vir mekaar, hier groet ons nog met opregtheid, en hier nooi ons met oop arms.”

’n Saad wat reeds ontkiem het

Organiseerders het reeds bevestig dat die Neutfees in 2026 gaan terugkeer – en dit gaan nóg groter wees. Daar is planne vir ’n reeks werkswinkels, gesprekke oor uitvoermarkte, en selfs internasionale besoekers. Die droom is dat die 2026 Pekan Plaasfees nie net ’n plaaslike fees sal bly nie, maar ’n nasionale baken van landbou-innovasie.

As landbouskrywer sien ek elke dag die uitdagings van boerdery – maar by Groblershoop het ek ook die krag van ’n gemeenskap gesien wat besluit het om saam te staan. Hierdie Neutfees was nie net ’n dag van feesviering nie. Dit was die begin van iets groter.

Want uit ’n neut het daar ’n fees ontstaan – en uit daardie fees, ’n toekoms.

Check out our other content