Die George Landbouskou, wat van 29 Augustus tot 1 September 2024 plaasvind, beloof ‘n fees van landbou- en vermaakaktiwiteite. Dr. Ivan Meyer, Minister van Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, sal die skou open, wat tradisioneel ‘n verskeidenheid diere-uitstallings lok, insluitend beeste, perde, skape, bokke, en pluimvee, asook ‘n perdeskou.
Kom kyk gerus na die pluimvee-afdeling waar ‘n groot verskeidenheid hoenders, sowel as sierduiwe en posduiwe, vanjaar ook ten toon gestel sal word. Die Boran Telersgenootskap van Suid-Afrika sal ook ‘n tegniese praatjie aanbied en hul beeste tentoonstel.
Saterdagoggend bied die skou ‘n Agility hondeskou aan, gevolg deur ‘n hondekompetisie die Sondag. Verskeie industriële uitstallers sal alles van trekkers en plaasimplemente tot “wood chippers”, vurkhysers, en watertanks ten toon stel. ‘n Nuwe toevoeging vanjaar is ‘n uitstalling deur Mohair SA.
Die Kaas en Wyn Saal sal produkte van bekende handelsmerke uitstal, en vir die eerste keer sal Scania hul groot trokke vertoon. Vir vermaak, is daar ‘n kinderarea met ‘n meganiese bul en die pretpark van FUN4U, sowel as sportaktiwiteite soos boks, “kickboxing”, skaak en “fencing”.
Kunstenaars soos Armand Hofmeyr en Riaan Benadé sal optree, en die program sluit ook ‘n sakeontbyt met gasspreker Christo van der Rheede in, sowel as ‘n kuiersessie met bekende akteur en aanbieder Hannes van Wyk.
Die Outeniqua Skougenootskap, reeds 163 jaar oud, verbind steeds die gemeenskap met landbou, wat ‘n belangrike rol speel in die Suid-Kaap se kultuur en ekonomie. Hierdie jaarlikse skou bly ‘n belangrike samekoms vir die gemeenskap en vier die ryk landbouerfenis van die Suid-Kaap.
Vir meer inligting besoek www.georgelandbouskou.co.za