31.9 C
Cape Town
Thursday, March 12, 2026

Geen gesplete-hoefdiere by NAMPO Oesdag 2026 weens BKS-risiko

EventsGeen gesplete-hoefdiere by NAMPO Oesdag 2026 weens BKS-risiko

Graan SA en die NAMPO-bestuur bevestig dat geen gesplete-hoefdiere by die 2026 NAMPO Oesdag, wat van 12-15 Mei 2026 by NAMPO Park plaasvind, toegelaat sal word nie. Hierdie besluit volg ná die onlangse uitbrekings van bek- en klouseer (BKS) in Suid-Afrika, insluitend gevalle wat geografies nader aan die sentrale produksiegebiede beweeg het.

Gesplete-hoefdiere sluit beeste, skape, bokke en varke in – diere wat bekend is daarvoor dat hulle die BKS-virus kan dra en versprei.

Die besluit is eenparig geneem tydens ’n vergadering tussen NAMPO, Graan SA en die verskeie telersgenootskappe, ná deeglike risiko-evaluasie en konsultasie met relevante rolspelers.

“Bek- en klouseer het nou letterlik naby aan die huis gekom. As beskermers van biosekuriteit kan ons dit nie waag om ’n platform te skep waar risiko’s nie effektief beheer kan word nie,” sê Danie Minnaar, Voorsitter van die NAMPO Oesdagkomitee.

Waarom dié besluit geneem is

Die onlangse besluit om die Bloemskou te kanselleer, asook sterk aanbevelings vanuit die Vrystaatse Departement van Landbou dat die risiko rondom diere-byeenkomste tans te hoog is, het die erns van die situasie onderstreep. Kundige insette het bevestig dat bestaande protokolle slegs risiko by ’n grootskaalse geleentheid soos NAMPO beperk en nie elimineer nie.

“NAMPO neem biosekuriteit uiters ernstig op. Hierdie vroeë besluit stel telersgenootskappe in staat om hul beplanning betyds aan te pas en voorkom groter risiko’s later,” sê Dirk Strydom, Besturende Direkteur van NAMPO.

Wat beteken dit vir telers en besoekers?

  • Geen gesplete-hoefdiere (beeste, skape, bokke, varke) sal by NAMPO 2026 toegelaat word nie.
  • Nie-risiko diere, soos perde, honde en pluimvee, sal wel toegelaat word, onderhewig aan streng biosekuriteitsmaatreëls.
  • Alle diere en voertuie wat betrokke is by dierverwante aktiwiteite sal gespuit en ontsmet word.
  • Praktiese biosekuriteitsmaatreëls vir besoekers word tans ondersoek en verder verfyn.
  • Bewusmakingsinisiatiewe oor biosekuriteit sal regdeur die NAMPO Oesdag geïntegreer word.

Nuwe unieke besoekers ervaring

Belangrik is dat telersgenootskappe steeds hul stalletjies sal beman en aangemoedig word om innoverend en kreatief te wees in hoe hulle rasse se genetiese voordele, prestasiedata en produksiewaarde uitbeeld – selfs sonder die fisiese teenwoordigheid van diere. Besoekers kan dus uitsien na ‘n nuwe ervaring waar rasse se voordele en prestasies op kreatiewe maniere met tegnologie en slim bemarking uitgebeeld gaan word.

NAMPO as opvoedkundige platform

Hoewel diere nie fisies teenwoordig sal wees nie, sal NAMPO 2026 hierdie situasie doelbewus gebruik as ’n opvoedkundige geleentheid om produsente, rolspelers en die breër publiek bewus te maak van:

  • die belangrikheid van biosekuriteit,
  • hoe siektes soos bek- en klouseer versprei,
  • en watter praktiese stappe produsente kan neem om hul eie bedrywighede te beskerm.

Voortgesette konsultasie

Graan SA en NAMPO sal voortgaan om met alle relevante partye te konsulteer in die aanloop tot die ekspo en sal enige verdere ontwikkelings betyds kommunikeer.

“Verantwoordelike besluitneming beteken soms om moeilike keuses vroeg te maak. Hierdie besluit is geneem in die beste belang van die bedryf, produsente en Suid-Afrika se dieregesondheid,” sluit Minnaar af.

Check out our other content