In 2026 keer een van Suid-Afrika se grootste landbousuksesse simbolies huis toe. Die Dohne-Merino-wêreldkongres, ‘n internasionale hoogtepunt op die landboukalender, sal van 6 – 13 September by die luukse Arabella Hotel naby Hermanus plaasvind.
Vir die eerste keer in die geskiedenis word dié wêreldbyeenkoms in die land gehou waar die ras ontstaan het – ‘n gepaste huldeblyk aan Suid-Afrikaanse vindingrykheid, wetenskap en volgehoue landboupassie. Die kongres word onder die vaandel van die Dohne Merino Telersgenootskap van Suid-Afrika aangebied, met BKB as hoofborg. Die geleentheid sal saamval met die 60ste bestaansjaar van die Dohne Merino Telersgenootskap, wat in 1966 gestig is.
Die Dohne Merino is ‘n eg Suid-Afrikaanse skaapras wat in die 1930’s deur die Departement van Landbou ontwikkel is. Die ras is aanvanklik geskep om in die uitdagende suurveldtoestande van die Oos-Kaap te floreer, en staan vandag bekend vir sy hoë vrugbaarheid, aanpasbaarheid, uitstekende lamgroei en wol van uitnemende gehalte. Dit is een van die wêreld se snelstgroeiende skaaprasse en ‘n ware suksesverhaal van wetenskap en praktyk.
Die oorspronklike ontwikkeling is gelei deur Mnr. J.J.J. (Koot) Kotzé van die Dohne Navorsingsinstituut in Stutterheim, met die eerste kruising wat reeds in 1939 tussen Duitse Vleisskaap-Merino-ramme en Merino-ooie plaasgevind het.
’n Internasionale viering van ’n plaaslike prestasie
Die tema van die 2026-kongres is “Wetenskap, passie, uitnemendheid, Dohne”, en dit weerspieël die toewyding van generasies telers en navorsers wat saamgewerk het om hierdie dubbeldoelras tot internasionale vlak te bring. Volgens Vaughn Collier, bestuurder van die genootskap, bied die kongres ‘n ideale geleentheid om hulde te bring aan die pioniers van die ras, sowel as die nuwe geslag wat hul werk voortsit.
Vandag bestaan daar aktiewe Dohne Merino-telersgenootskappe nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Australië en Uruguay – ’n bewys van die ras se wêreldwye aanvaarding.
Die weeklange program sal insiggewende voorleggings, plaasbesoeke en waardevolle netwerkgeleenthede insluit, en bied aan telers van regoor die wêreld die kans om kennis te deel en bande te smee – alles op die plek waar die Dohne Merino sy oorsprong het.
Suid-Afrika kan met reg trots wees om hierdie wêreldkongres aan te bied – ‘n viering van ‘n ras wat deur wetenskap en passie gevorm is, en steeds wêreldwyd uitsonderlike waarde lewer.
Deelnemers word aangemoedig om reeds nou hul plek te bespreek vir hierdie unieke gebeurtenis wat verwag word om nie net informatief nie, maar ook histories van aard te wees.