18.3 C
Cape Town
Tuesday, May 13, 2025

Clanwilliam Expo 2025: Tradisie en Talent in die Hart van die Cederberg

EventsClanwilliam Expo 2025: Tradisie en Talent in die Hart van die Cederberg

Die Clanwilliam Expo vind van 10 – 12 April 2025 plaas en beloof om ’n spoggeleentheid in die hartjie van die Cederberg te wees. Hierdie jaar verwelkom die Expo ‘n rekordgetal van 73 uitstallers, waar 152 perdestalle alreeds vol bespreek is – ’n sterk bewys van die ekspo se groeiende gewildheid.

Vanjaar se Clanwilliam Expo is die 95ste wat in die dorp aangebied word. Onder leiding van president Nico Louw en ’n toegewyde bestuurspan van 15 lede, is die ekspo met groot sukses georganiseer.

Volgens Nico Louw, president van die Clanwilliam Expo, is die 2025-ekspo die tweede in ’n nuwe era van sukses. “Elke lid van ons span het hul alles gegee,” sê hy, “en ons is opreg dankbaar vir die ondersteuning van borge en die gemeenskap.”

Die program is propvol aktiwiteite – van die Santam Damesoggend en potjiekoskompetisie tot die Boerbok-, Melkbok- en Dorperskou, asook hoogtepunte soos die Skoukoningin-kompetisie en die gewilde Vlaamperd Streekskou.

Jeugskou: Die Toekoms van Landbou

Een van die trots van die Clanwilliam Expo is die Jeugskou, wat vir baie jong deelnemers hul eerste smaak van landboukompetisie bied. Die Jeugskou het aktiwiteite op al drie hoofdae van die ekspo – met beginners en junior deelnemers op Donderdag, en junior & senior kampioenskappe wat later op die program plaasvind. Kinders van verskillende skole neem deel en skou diere soos boerbokke, melkbokke, vleisskape, Angora bokke en selfs pluimvee. Die Jeugskou leer kinders nie net oor dieresorg en boerderypraktyke nie, maar ook oor dissipline, verantwoordelikheid en spanwerk – kernwaardes vir volhoubare landbou in die toekoms.

Gemeenskap, Vermaak en Ekonomiese Impak

Die Expo bied iets vir almal – van die plaaslike gemeenskap tot besoekers van reg oor die streek. Vrydagaand sluit af met ‘Skoudans en Kuier met Appel’, en Saterdag spog met ’n vol konsertprogram in die kuiertent met kunstenaars soos Brandan Miles, Mirandi, Tamlyn Wessels, Brendan Peyper en Snotkop. Intussen is die Arena besig met perdevertonings, Rieldansers en die gewilde Wa-spanne van agt Vlaamperde.

Agri-Expo, die oudste landbougenootskap in Suid-Afrika, ondersteun hierdie inisiatief as deel van hul volhoubare landboustrategie. Die Clanwilliam Expo is ’n belangrike landbou- en gemeenskapsbate in die streek, wat ontwikkeling, opvoeding en plaaslike ekonomie bevorder.

Check out our other content