Suid-Afrika speel ’n sleutelrol om die wêreld van gehaltevrugte te voorsien – veral wanneer Europa se seisoen eindig. Plaaslike produsente werk onder van die strengste uitvoervereistes en staan voortdurend onder die vergrootglas. Tog wys hulle die wêreld hoe dit gedoen moet word: met dissipline, kundigheid en ’n groeiende vertroue in biologiese gewasbeskerming.
“Suid-Afrikaanse produsente is vóór wat nakoming betref en ‘n voorbeeld vir die wêreld oor hoe uitvoerprodukte vir veeleisende markte hanteer moet word.” Só sê Wian Smith, ’n voorloper in biologiese oplossings en reeds dekades lank ’n voorstander van biologiese benaderings vir Suid-Afrika se noodsaaklike vrugte-uitvoerbedryf.
As InteliGro se Senior Gewas Adviseur in die EGVV-streek (Elgin, Grabouw, Villiersdorp en Vyeboom), werk Smith reeds 13 jaar nou saam met produsente van appels, pere en steenvrugte. Hy ondersteun ook produsente in die Bossieveld in Worcester en in die Hemel-en-Aarde-vallei.
80% VAN EGVV-PRODUSENTE GEBRUIK BIOLOGIESE GEWASBESTUUR
Volgens Smith gebruik sowat 80 persent van die produsente in die EGVV-streek reeds biologiese gewasbestuurprogramme.
“Marktoegang bly een van die grootste dryfvere agter biologiese oplossings, veral weens die streng vereistes vir minimum-residue (MRL)-vlakke op vrugte in markte soos Europa,” sê Smith. “Ons produsente voldoen reeds hieraan danksy effektiewe gebruik van biologiese oplossings in ‘n geïntegreerde gewasbeskermingprogram.”
Nog ‘n groot uitdaging vir voldoening is die bestuur van fitosanitêre peste en plae soos kotlingmot en vrugtevlieë wat appels en pere aantas. “’n Enkele larf kan veroorsaak dat ’n hele besending in die buiteland afgekeur word en die mark vir daardie produk sluit. Dit het Suid-Afrikaanse uitvoerders reeds in die belangrike Oosterse markte ervaar,” sê Smith. “Daarom is dit krities dat ons hierdie plae slim bestuur.”
PRODUSENTE SPAN VIRUSSE, SWAMME EN PREDATORIESE MYTE IN VIR NATUURLIKE BEHEER
Plaaslike produsente span reeds virusse in om kotlingmot in kombinasie met chemie in geïntegreerde gewasbestuurprogramme te beheer. Vrugtevlieë word area-wyd deur lugspuit-toedienings van biologiese middels onderdruk.
Nog ’n suksesstorie is die gebruik van grondswamme in die bestuur van appelbloedluis. ’n Appelprodusent in Grabouw wat al twee jaar saam met Smith ’n grondswam-program volg, toon merkbare sukses.
“Vanjaar se druk was hoog, maar danksy vroeë ingryping was ons skade slegs ’n fraksie in vergelyking met die res van die bedryf s’n,” sê Smith. “Die bonus is dat hierdie swam ook witluis en kalander onderdruk.”
In die Bossieveld in Worcester het Smith saam met ‘n produsent op die plaas Jonkersrivier ‘n deurbraak gemaak met biologiese beheer van rooispinnekop in appels. Dié spinnekop het reeds weerstand teen chemiese produkte ontwikkel. Smith het predatoriese myte vrygestel en binne twee jaar byna volledige beheer verkry. Ná aanpassings aan tydsberekening en verpakking kon die myte ín die appelbome uitbroei. Hierdie sukses het ook die deur oopgemaak vir verdere toepassings, soos kalanderbeheer.
LANGTERMYN BIOLOGIESE BENADERINGS VRA KUNDIGE LEIDING EN VERTROUE
Smith waarsku dat biologiese programme nie ’n kitsoplossing is nie, maar eerder ‘n langtermynbenadering waar kundige leiding krities is.
“Swamme neem byvoorbeeld twee tot drie jaar om in die grond op te bou, sodat dit op die regte tyd en vir die regte lewensiklus aangewend kan word. Dit is dus van uiterste belang om die pes en sy lewenssiklus te ken. Sodoende kan die biologiese strategie op die regte tyd toegepas word,” sê hy.
Smith benadruk dat ‘n produsent bereid moet wees om volle vertroue in die Gewas Adviseur se biologiese benadering te plaas.
“Biologiese gewasbeskerming vra volgehoue vertroue, aanpassing en fyn monitering. Dit is nie ’n modegier nie, maar die toekoms – en dit verg adviseurs wat weet wanneer dit gaan werk, en wanneer nie. Die produsent moet hom laat lei deur kenners wat die tydsberekening verstaan. In die eerste jaar kan daar steeds skade wees terwyl die program fyn ingestel word vir optimale resultate.
“Produsente is soms aanvanklik skepties oor biologiese benaderings, maar ons het reeds bewys dat dit werk. Ons rol as Gewas Adviseurs is om produsente te help belyn met die regte oplossings en hulle te lei deur die leerproses. Suid-Afrikaanse produsente het ook reeds bewys dat hulle die dissipline en kundigheid het om biologiese programme suksesvol toe te pas.”
KENNIS DIE HOEKSTEEN VAN GEÏNTEGREERDE GEBRUIK VAN CHEMIE EN BIOLOGIE
Smith beklemtoon dat biologiese en chemiese oplossings mekaar in ‘n geïntegreerde gewasbeskermingprogramaanvul, maar dat dit jare se ervaring en goeie tegniese ondersteuning verg om effektiwiteit te behou.
Hy voorsien dat die biologiese sektor net vinniger gaan groei, veral omdat chemiese produkte teen ’n merkwaardige tempo verminder as gevolg van strenger regulasies.
Sy raad aan produsente is as volg: “Maak die skuif, bring biologiese oplossings in jou program in, maar belyn jouself met die regte wêreldklasmaatskappye en goeie gehalte biologiese oplossings. Effektiewe oplossings is soms duurder. Die bedryf gaan egter ’n siftingsproses ondergaan waarin slegs betroubare maatskappye sal oorleef – dié wat deeglike ontwikkelingswerk met geregistreerde, getoetste produkte gedoen het. Produsente moet dus seker wees van hul keuses.”