Kasjmir en Ladakh in die verre noorde van Indië word met reg beskryf as ‘n paradys op aarde. Twee absolute uiteenlopende streke wat knus langs mekaar lê in die arms van die indrukwekkende Himalajas – die een welig groen, die ander asemrowend bar, ‘n sogenaamde koue woestyn.
Kasjmir: Land van Rustigheid – Kasjmir, bekend vir sy groen valleie, ongerepte mere en sneeubedekte berge, is ‘n droom-bestemming. Srinagar, die somerhoofstad, is beroemd vir die ikoniese Dalmeer, waar reisigers ‘n rustige shikara-rit kan geniet of in bekoorlike huisbote kan bly. Die Moghul-tuine, met hul noukeurige uitleg en blomryke praal, bied ‘n blik op die invloed wat die moghuls van ouds. Nie ver van Srinagar af nie, in teenoorgestelde rigtings, lê twee onvergeetlike bestemmings: Gulmarg, bekend vir sy skilderagtige skoonheid omring deur die majestueuse Himalajas en somers blommeprag; en Pahalgam, gevier vir sy welige en vrugbare valleie. Kasjmir se warm gasvryheid en heerlike kos, met geregte soos Rogan Josh en Kahwa, maak die ervaring nog meer spesiaal.
Ladakh: Ongetemde Skoonheid – In skerp kontras met Kasjmir se oordaad groen, spog Ladakh met ruwe landskappe, toringende berge en asuurblou lug. Die “Land van Hoë Bergpasse,” is ‘n toevlugsoord vir reisigers wat ongerepte natuur op sy beste soek. Leh, die hart van Ladakh, word omring deur kloosters wat teen berghellings klou – soos Thiksey en Hemis, Boeddhistiese tradisies oraloor. Pangong Tso-meer, op die grens met Tibet, betower besoekers met sy wisselende kleure omgeef deur ‘n ruwe landskap.
Die reis tussen Kasjmir en Ladakh gaan via die skilderagtige Zojila-pas, waar die dramatiese kontraste van die twee streke duidelik blyk. Die beste tyd van die jaar om hier te reis is van Mei tot September, wanneer die paaie oop en die weer aangenaam is. Sluit aan by TE Tours in Julie, wanneer hulle weer reis na die vrede van groen Kasjmir en die skoonheid van Ladakh se barre landskap.
TE Tours by Club Travel Tyger Valley Centre
Tel: 021 914 2265 | E-pos: [email protected] | www.smallgrouptours.co.za