Agri Wes-Kaap en Santam het met trots die agt finaliste vir die 2025 Jongboer van die Jaar-kompetisie aangekondig – ‘n geleentheid wat die passie, vernuf en volhoubare denke van jong landbouleiers beklemtoon. Hierdie finaliste staan nie net uit as produsente nie, maar as innoveerders wat hul gemeenskappe versterk en die toekoms van landbou vorm.
Agt jong boere met visie en vasberadenheid
Van Robertson boer André Swanepoel reeds vir sewe jaar met sitrus, steenvrugte, wingerd en groente. Sy dryfkrag is duidelik: “Volhoubaarheid! Ek wil graag so uitbrei dat die besigheid vir nog baie generasies suksesvol sal voortbestaan.”
In die Hexriviervallei produseer Francois Rossouw tafeldruiwe op 310 hektaar. Sy fokus is op uitnemendheid: “My visie is om verder te groei deur volhoubare kwaliteit tafeldruiwe te produseer en uit te voer.”
Gordon Anderson, van Greyton, verbou appels en pere in die Overberg. Hy sê: “My visie vir Oewersig is, dat ons onder die top 10% vrugteplase in die Wes-Kaap, asook die land is.”
Hermann Heins, ’n boer van Stellenbosch, bestuur wynboorde en ‘n varkeenheid. Hy glo sterk aan nalatenskap: “Om volhoubaar te boer sodat die volgende vier generasies nog kan boer.”
Barrydale se Jaco Bruwer produseer ‘n reeks vrugte en groente. Sy doelwit: “Om volhoubaar te wees en ’n positiewe invloed op die gemeenskap uit te oefen terwyl ons hoë gehalte voedsel produseer.”
Mario Lombard van George, met 19 jaar se ervaring in avokado- en beesproduksie, sê: “My langtermyn visie is die uitbreiding van avokadoproduksie, asook om ander boerderyvertakkings te ondersoek.”
Musa Mfengu van Tulbagh produseer bloubessies op 36,6 hektaar en wil standaarde stel: “My goal is to make this farm the benchmark for all Ozblu Farms, showcasing best practices and exceptional performance.”
Van Ceres/Hamlet is Niel Bruwer, ’n produsent van droë- en kernvrugte. Hy streef daarna “om volhoubaar en effektief te boer deur die toepassing van moderne boerderypraktyke en gemeenskapsbetrokkenheid te bevorder.”
Volgens beoordelaar Inus Oosthuizen is hierdie groep besonder indrukwekkend vanweë die uiteenlopende produksievelde – van bloubessies tot varke, en van tafeldruiwe tot vleisbeeste.
Besoeke aan die boere werp waardevolle insigte op
In die week van 19 tot 22 Mei 2025 het Agri Wes-Kaap en die beoordelaarspaneel begin met hul plaasbesoeke aan die finaliste. Tot dusver is Mario Lombard op George, Musa Mfengu in Tulbagh, Francois Rossouw in die Hexriviervallei, en Gordon Anderson in die Overberg besoek. Hierdie ontmoetings het waardevolle geleenthede gebied om eerstehands insig te kry in die boerderypraktyke, tegnologie en visie van elke deelnemer. Die oorblywende finaliste sal in die komende week besoek word.
Die wenner sal op 11 Junie 2025 bekend gemaak word en die Wes-Kaap tydens die Toyota SA/Agri SA Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie verteenwoordig. Hierdie agt finaliste verteenwoordig nie net die beste van jong boerdery nie – hulle ís die toekoms van volhoubare landbou in Suid-Afrika.