Die Saai Karoo Landboufees vind op 30 en 31 Oktober 2026 op die Laingsburg Sportgronde plaas en beloof om boere, gemeenskappe én die jeug byeen te bring vir twee dae van kennis, inspirasie en egte Karoo-gasvryheid. Die fees, wat vanjaar vir die vyfde keer aangebied word, is reeds ’n gevestigde hoogtepunt op die streek se landboukalender.
Vrydag se landbou- en gemeenskapsfokus
Die amptelike program skop Vrydag af met die BKB-veeveiling en ’n spesiale jeugprogram wat deur die Departement Landbou, Wes-Kaap aangebied word. Om 14:00 volg ’n belangrike paneelbespreking met dr. Ivan Meyer (Minister van Landbou en Ontwikkeling & Toerisme Wes-Kaap), Grant Naudé (SA Merino) en dr. Theo de Jager (Saai), gefasiliteer deur Heindrich Wyngaard. ’n Bespreking oor vrouemishandeling, aangebied deur die Kaapse Forum, vorm ook deel van die middag se verrigtinge. Die Vrydagaand word op ’n hoë noot afgesluit met die gewilde Mej. Landbou-kompetisie op die hoofarena, sowel as optredes deur Dani Villè en Wynand & Chereè.

Jeug en innovasie regdeur die naweek
Oor die volle twee dae (30–31 Oktober) staan die jong boere van môre ook in die kollig. Landbouskole neem deel met hul eie patente en modelle wat deur Hollard geborg word – ’n inisiatief wat bewys dat ‘n kultuur van innovasie reeds stewig onder die jeug gevestig is.
Saterdag se vermaak en gesinsaktiwiteite
Saterdag is gepak met aksie en vermaak vir die hele gesin. Ná die pretloop en sokkertoernooi kan besoekers uitsien na die kermis, groentemark, die Santam Karoo Kole Koning-braaikompetisie en die ATKV-talentkompetisie.
Dames kan uitsien na ‘n eksklusiewe damesfunksie om 12:00 in die Stephanus Greeffsaal, waar Hannes van Wyk en Dani Villè vir die vermaak sal sorg.
Die res van die kultuur- en vermaakprogram sluit verder ’n K9-hondevertoning deur die Mosselbaai K9-honde-eenheid, die gewilde wolbaaldra-kompetisie en ’n sterkmankompetisie in. Die dag word afgesluit met uitstekende musiek en optredes deur onder meer Dassie en Pietman Geldenhuys.
Die feesnaweek word op Sondag, 1 November, afgesluit met ’n dankdiens in die Stephanus Greeffsaal. Besoekers word uitgenooi om saam met familie en vriende die naweek te kom geniet en Saai se missie te ondersteun: om die familieboer op die plaas en in die gemeenskap te hou.
Vir meer inligting kontak Ronika Groenewald by 083 483 0163.