Moorreesburg maak gereed om van Woensdag 2 tot Saterdag 5 September 2026 weer die hartklop van die Wes-Kaapse landbou te wees wanneer die 92ste Swartlandskou sy hekke open. Besoekers kan uitsien na ’n indrukwekkende program wat insluit kampioenskappe, innovasie, uitstallings, uitstekende vermaak en ‘n egte plattelandse atmosfeer.
Absa Beesarena en Streng Biosekuriteit
Die Absa Beesarena beloof om vanjaar weer ’n groot trekpleister te wees met tien verskillende raskampioenskappe — insluitend nuwe toevoegings soos Waterbuffels en die majestueuse Chianina-beeste. Die gewilde Interras-beoordeling vind Saterdag 5 September om 08:30 plaas, gevolg deur die amptelike aanwysing van die Goue Beker-wenners om 11:36.
Streng biosekuriteit bly ‘n top-prioriteit. Met die langdurige ondersteuning van Peroxsil word konsekwente skoonmaak en ontsmetting van dierebewegings, voertuie en oppervlaktes professioneel toegepas om ‘n veilige omgewing vir diere, telers en besoekers te verseker.

Sleutel-hoogtepunte op die Program:
Jeugskou en Kleinvee: Die WP Streeksjeugskou skop Woensdag 2 September om 12:00 af (met inskrywings vir onder meer fotografie, kulinêre kuns, suiwelbereiding en veebeoordeling). Die Kleinvee-afdeling bied Donderdag ‘n inligtingsdag aan, gevolg deur ‘n skaapkarkas-opsaagdemonstrasie en skaapkopete Vrydag, asook die Swartlandskou Boerboelkampioenskappe en -gradering Saterdag vanaf 08:00.
Perde-arena: Perdeliefhebbers kan uitsien na die Nasionale Vlaamperd SA Kampioenskappe, die WP Saalperd Streekskampioenskap, en nuwe vertonings deur elegante Miniatuurperde. Vrydag sluit ook ‘n trompoppie-vertoning deur Laurie Hugo (12:00) en Laerskool Dirkie Uys se vertoning (13:00) in.
Landbouseminaar en Masjinerie: Vrydag 4 September om 08:30 vind die Swartlandskou Landbouseminaar plaas oor die tema “Navigeer die uitdagings in ‘n veranderde omgewing”, met sprekers Tjaart Kruger, Mark Watt en prof. Johan Willemse. Landboumasjinerie ter waarde van meer as R230 miljoen sal ook op die terrein uitgestal word.
Feesvermaak en Rugby op die Grootskerm: Die sosiale program spog met die AFGRI Damesdag Woensdag (08:30), Intelgro Produsentedag Donderdag (08:30), en ‘n spesiale Bok Zone waar die rugbywedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks Saterdag regstreeks op ‘n grootskerm gewys word.
In samewerking met Afrikaans op die Platteland tree van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars op, waaronder Juan Boucher, Elandré, Karlien van Jaarsveld, Snotkop, Hendré Baard, Brandon Miles, Ruan Theron, Ivan van der Merwe, Johan van der Merwe, DJ Wico, Donnalee Roberts en Francois Boyce.
Upcoming Agricultural Events & Festivals: August – November 2026
Met gerieflike tente-verblyf op die terrein, kosstalletjies, ‘n Wyntuin en ‘n Champagne Bar, bied Swartlandskou 2026 ‘n onvergeetlike ervaring vir die hele gesin.
Kaartjies is aanlyn beskikbaar via Tixsa of by die hekke. Vir die volledige program, besoek www.swartlandskou.co.za.