Doeltreffende stresbeheer raak toenemend noodsaaklik terwyl uiterste weerstoestande Suid-Afrikaanse landbou bedreig – van 45 °C-hitte wat sitrusboorde in Citrusdal verskroei tot swaar reën wat vrugset in tafeldruifwingerde ontwrig. Produsente raak al hoe meer vertroud met die uitdaging van gewasse wat onder erg fisiologiese stres verkeer.
Hoewel plaag- en siektebeheer steeds baie aandag kry, het plantstres stilweg een van die belangrikste opbrengsbeperkende faktore geword, sê Martin Booyens, Tegniese Bemarking Spesialis vir biologiese gewasoplossings by InteliGro.

“Stres is die stille opbrengsdief,” sê Booyens. “Doeltreffende gewasbeskerming bly noodsaaklik, maar dit is nie meer genoeg op sy eie nie. ’n Meer holistiese benadering is nodig. Vandag is een van die grootste threats vir opbrengs dikwels nie insekte of siektes nie, maar die plant se onvermoë om omgewingstres te hanteer.”
Wanneer die weer die pas aangee
Gereelde hittegolwe in tafeldruifgebiede soos Kakamas en De Doorns lei tot swak vrugset, ongelyke trosontwikkeling en laer opbrengste. In die sitrusbedryf het Valencia-boorde aansienlike vrugval ervaar nadat bome tydens kritieke ontwikkelingsfases onder stres gekom het, terwyl hitte bo 45 °C sonbrand en swakker uitpakpersentasies veroorsoak het.
Wanneer stres toeslaan, skakel plante van produksie na oorlewing oor. Energie wat normaalweg groei en vrugontwikkeling sou aandryf, word bloot gebruik om die plant aan die lewe te hou. Fotosintese vertraag en reaktiewe suurstofspesies beskadig plantselle.
Bogronds veroorsaak hitte vogverlies en mikroskopiese krake wat toegangspunte vir patogene skep. Ondergronds onderdruk hoë temperature voordelige grondmikrobes en belemmer dit die opname van noodsaaklike voedingselemente soos stikstof, kalsium en kalium.
Biologiese middels: Meer as net nóg ’n spuitprogram
Produsente se eerste reaksie is dikwels om chemiese produkte by te voeg, maar dit los meestal net ‘n spesifieke probleem op sonder om die plant se fisiologiese balans te herstel. Biologiese produkte dien as voorkomende bestuursinstrumente wat gewasse se weerbaarheid versterk voordat stres intree.
Sommige biologiese middels ondersteun die plant se metabolisme, terwyl ander die waterbalans in selle hanteer. Voordelige grondmikrobes stimuleer wortelontwikkeling en aminosure voorsien verbindings wat die plant andersins met groot energieverbruik self moes vervaardig.
Voordat stres posvat
Tydsberekening is deurslaggewend. Teen die tyd dat sigbare simptome verskyn, het fisiologiese skade reeds plaasgevind. Biologiese produkte benodig gewoonlik tussen 48 en 72 uur om metaboliese prosesse te aktiveer.
Doeltreffende stresbestuur begin egter by die basiese beginsels:
- Basiese voeding: Gewasse moet oor die nodige voedingstowwe beskik vir normale fotosintese voordat stres aangespreek word.
- Geteikende oplossings: Aminosure help met herstel ná haelskade, Trichoderma bevorder wortelgesondheid, en osmobeskermers soos glisienbetaïen behou selstabiliteit tydens hitte.
Goeie besluite begin by goeie inligting
Booyens waarsku om nie produkte bloot op grond van bemarkingsaansprake te kies nie. Gereelde grond-, water- en blaarsap-analises neem die raaiwerk uit bestuursbesluite. Produsente moet ook seker maak dat produkte ingevolge Wet 36 van 1947 geregistreer is en raad inwin by CropLife-geregistreerde Gewas Adviseurs.
Upcoming Agricultural Events & Festivals: August – November 2026
Hoewel biologiese programme insetkoste op kort termyn verhoog, vestig voordelige organismes hulself mettertyd in die grond. Dit bou langtermyn-weerbaarheid op en verminder die behoefte aan herhaalde toedienings.
Boer een stap voor die weer
Om gewasse weerbaar te maak, is ‘n kenmerk van winsgewende, volhoubare produksie. Die produsente wat in die toekoms suksesvol gaan wees, is dié wat hul plante voorberei voordat die stres toeslaan.