15.8 C
Cape Town
Friday, April 24, 2026

Puglia Cheese se burrata wen groot by SA Suiwelkampioenskappe

EventsPuglia Cheese se burrata wen groot by SA Suiwelkampioenskappe

‘n Handgemaakte burrata van Puglia Cheese in Somerset-Wes is as die 2026 Suid-Afrikaanse Suiwelproduk van die Jaar aangewys tydens die SA Suiwelkampioenskappe wat op Donderdag, 23 April 2026 by Nederburg in die Paarl plaasgevind het.

Die burrata, vervaardig van 100% Suid-Afrikaanse melk, het uitgestaan onder ’n rekordgetal van 1 227 inskrywings van 81 produsente. Die SA Suiwelkampioenskappe bly die grootste en oudste suiwelkompetisie in Afrika.

Kenners loof tegniese vaardigheid en outentiekheid

’n Paneel van 130 beoordelaars het die inskrywings oor drie dae beoordeel. Altesaam 122 produkte is as SA Kampioene in hul klasse aangewys, terwyl 36 produkte met die gesogte Qualité-merk bekroon is.

Volges die hoofbeoordelaar, Graham Sutherland, getuig die wenproduk van tegniese vaardigheid en outentiekheid.

“Dit is ’n ware viering van Italiaanse kaasmaaktradisie – ’n vars pasta filata-kaas met ’n delikate buitenste laag en ’n ryk, romerige binnekant wat balans en weelde bied.”

Wat is burrata?

Burrata is ’n vars mozzarella-tipe kaas gevul met room en stracciatella, met ’n sagte buitekant en ’n ryk, romerige kern, en word tipies by kamertemperatuur bedien.

Puglia Cheese vier erkenning

Die stigters van Puglia Cheese, Davide en Ursula Ostini, sê die toekenning is ’n trotse oomblik vir die span.

“Hierdie erkenning weerspieël jare se toewyding aan gehalte en ’n diep respek vir tradisionele kaasmaaktegnieke, aangepas vir plaaslike omstandighede. Puglia Cheese is in 2010 gestig nadat ons uit Italië verhuis het, met die doel om outentieke, hoëgehalte Italiaanse kaas plaaslik te vervaardig. Ons was pioniers in die produksie van burrata in Suid-Afrika en is trots om ’n produk te lewer wat met die beste kan meeding.”

Bedryf toon innovasie en veerkragtigheid

Volgens Breyton Milford, Hoofbestuurder van Agri-Expo, weerspieël die uitslae sowel innovasie as veerkragtigheid in die suiwelbedryf.

“Die rekordgetal inskrywings en die deurgaans hoë gehalte van produkte dui op ’n mededingende en vooruitstrewende bedryf, waar gevestigde vervaardigers én kleiner rolspelers die standaard bly verhoog.”

Milford het voorste presteerders in vanjaar se Qualité-toekennings gelukgewens, insluitend Lactalis South Africa (agt toekennings), Clover (drie), Fairfield Dairy (drie), Fair Cape Dairies (twee), Ladismith Cheese Company (twee), Lancewood (twee) en Polar Ice Cream Company (twee).

Dalewood Fromage het ’n eervolle vermelding vir derde plek algeheel ontvang vir sy Full Cream Jersey Milk, terwyl tweede plek algeheel toegeken is aan Lactalis South Africa vir sy Woolworths Mature Gouda – 10 maande.

Game Changer-toekenning beklemtoon jong talent

Agri-Expo het ook die 32-jarige Courtenay van der Merwe, Bestuurder: Nuwe Produkontwikkeling by Fair Cape Dairies, met die derde jaarlikse Hollard Game Changer-toekenning vereer. Die toekenning, wat ’n kontantprys van R50 000 insluit en deur Hollard geborg word, erken jong professionele persone wat reeds ’n meetbare bydrae tot die suiwelbedryf lewer.

Bedryfsondersteuning bly deurslaggewend

“’n Projek van hierdie omvang is slegs moontlik danksy sterk samewerking in die bedryf,” sê Milford.

Hy het die rol van vennote beklemtoon, insluitend platinumvennote IMCD South Africa en dsm-firmenich; diamantvennote Novonesis, SIG en Synercore; goue vennote Woolworths, Condio, Hollard, Checkers, IFF, Orchem en die Wes-Kaapse Departement van Landbou; silwervennote Mane, SPAR en Fruitique; en bronsvennote Agrana Fruit, Polyoak Packaging, Tetra Pak en Ecowize.

Natasha de Lange, besturende direkteur van IMCD South Africa, sê hul betrokkenheid weerspieël ’n langtermynverbintenis tot die bedryf.

Check out our other content