’n Groot oomblik vir landbou en onderwys het Maandag, 13 Oktober plaasgevind by die Martin Oosthuizen-skool in Kakamas, waar die Agri Skills-beurs amptelik aan Etienne Swart oorhandig is. Die oorhandiging is gedoen deur Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, en Johan Kruger van Agri Skills Transfer tydens die skool se saalopening.
Etienne, ’n entoesiastiese Graad 12-leerling met ’n duidelike roeping in landbou, is gekies as die ontvanger van hierdie waardevolle beurs wat verblyf, studies en lewenskoste insluit. Hy sal in 2026 sy landboudiploma begin studeer by Agri Skills Transfer, ’n instelling wat daarop gemik is om jong mense prakties en teoreties toe te rus vir die landbousektor.
Jong talent kry die kans om te blom
Die Agriskills-beurskompetisie, aangebied deur Agri Skills Transfer in samewerking met TLU SA, is ’n inisiatief wat daarop fokus om jong talent in landbou te bevorder. Dit bied Graad 12-leerlinge die geleentheid om hul passie, visie en toewyding tot landbou te wys deur middel van ’n motiveringsbrief, ’n kort selfoonvideo en ’n meningstuk oor hul visie vir die toekoms van landbou.
“TLU SA glo dat die toekoms van landbou in die hande van ons jeug lê,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Ons is trots om saam met Agri Skills jong mense soos Etienne te ondersteun wat ’n werklike liefde vir landbou toon. Hierdie belegging is nie net in een jongman nie, maar in die volhoubare toekoms van landbou in Suid-Afrika.”
Met projekte soos hierdie wil TLU SA jongmense aanmoedig om ’n loopbaan in landbou te oorweeg en trots te wees op hul bydrae tot voedselproduksie en gemeenskapsontwikkeling.