Op 1 Julie 2025 het Weskus Meganisasie hul nuutste tak in Clanwilliam amptelik geopen – ’n mylpaal wat nie net groei simboliseer nie, maar ook ’n dieper verbintenis tot plaaslike landbou, ekonomiese ontwikkeling en volhoubare dienslewering.
Met ‘n grondslag wat in 2007 gelê is, het hierdie dinamiese onderneming gegroei van ’n klein familievennootskap tot ’n gesoute speler in die landboumeganisasiebedryf in die Wes-Kaap. Vandag bedien hulle boere regoor die streek met betroubare handelsmerke, onderdele, tegniese kundigheid en ’n benadering wat klanteverhoudinge in die hart van hul besigheidsmodel plaas.
Nicky Russouw se pad tot ondernemingsleier
Nicky Russouw, stigter en besturende direkteur van Weskus Meganisasie, se passie vir landbou het diep wortels. Gebore en getoë op ’n plaas buite Porterville en die jongste van vier broers, het hy van kleins af in ’n wêreld van landboumasjinerie grootgeword – sy pa het vir 32 jaar by John Deere gewerk.
In 2002 het Russouw ’n diploma in bemarking aan die Kaapse Technikon verwerf. Daarna het hy sy loopbaan begin by die destydse Argi Varia, waar hy vir die eerste keer met die Landini-handelsmerk gewerk het. Daarna het hy vir 10 maande by Boland Agri gewerk. Met die samesmelting van Boland Agri en WPK is hy oorgeplaas na Rovic, toe Boland Agri die Rovic Leers-agentskap prysgegee het. Hierdie opeenvolgende poste het sy tegniese kennis verdiep en sy begrip van klantebehoeftes en bemarking in die landboubedryf versterk.
Die groot keerpunt het gekom in 2007 toe vyf vennote besluit het om hul eie onderneming, Weskus Meganisasie, te stig. Die besigheid het op 1 Maart 2007 sy deure in Vredendal geopen, met aanvanklik net die Landini en Rovic agentskappe onder hulle vlerk.
Die regte tyd, die regte plek – en die regte vennootskappe
Die aanvanklike groei van Weskus Meganisasie was strategies en het goed saamgeval met ’n beskikbare geleentheid. Pierre Matthee van Eendekuil was die Rovic-handelaar in die Swartland, maar het sowat ’n jaar ná Weskus Meganisasie se ontstaan die agentskap prysgegee. Hierdie leemte het Weskus Meganisasie die kans gebied om hul diensaanbod in die streek te vestig en verder uit te bou.
Een van die mees betekenisvolle besigheidsontwikkelings het in 2020 plaasgevind toe Weskus Meganisasie en Rovic ’n 50/50-vennootskap gevorm het. Hierdie samesmelting het die onderneming in staat gestel om hul voetspoor dramaties uit te brei na Malmesbury en Ceres – ‘n uitbreiding wat nie net kapasiteit verhoog het nie, maar ook toegang tot nuwe markte en sterker ondersteuning vir bestaande klante beteken het.
Volgens Russouw was die vennootskap met Rovic ’n keerpunt: “Daardie besluit het ons in staat gestel om geleenthede aan te gryp wat voorheen buite ons bereik was. Rovic is ’n sterk, gevestigde naam met dieselfde waardes as ons – fokus op diens, eerlikheid, en langtermynverhoudings.”
Clanwilliam – die volgende hoofstuk
Die opening van die Clanwilliam-tak is nie bloot ’n uitbreiding nie, maar ‘n bevestiging van Weskus Meganisasie se geloof in die potensiaal van die streek se mense en landbousektor. Die nuwe tak is ten volle toegerus met ‘n werkswinkel en onderdele-afdeling, en voeg waarde toe tot die reeds bestaande takke in Vredendal, Piketberg, Malmesbury en Ceres. Die onderneming beskik nou oor 44 personeel – ‘n span wat Russouw beskryf as “die hart van ons besigheid.”
Tydens die amptelike opening was verskeie gaste teenwoordig, insluitend die plaaslike sakeman en akademikus Reuben Richards, wat hartlik verwelkom is as spreker. Hy het die waarde van plaaslike betrokkenheid en ondernemingsgees in sy toespraak beklemtoon.
Verder het Azrial Scheepers, Burgemeester van die Cederberg Munisipaliteit die onderneming verwelkom met die volgende woorde:
“’n Lewende besigheid beteken meer as net produkte of dienste. Dit beteken werksgeleenthede vir ons mense, verligting van armoede in ons dorpe en streke, en investering in ons plaaslike en streeksekonomie. Dit bring vars energie en nuwe idees wat ons hele gemeenskap bevoordeel. Julle besluit om julle deure hier oop te maak wys dat julle glo in die potensiaal van ons mense en dorpe – en daarvoor is ons as raad baie dankbaar.”
’n Kultuur van diens en betrokkenheid
Rovic is ’n toonaangewende landbou-implementeverskaffer in Suid-Afrika, met ’n sterk fokus op moderne, meganiese oplossings vir boere. Hulle versprei onder meer strooiers, spuite, grondbewerkingstoerusting en ander belangrike implemente wat die doeltreffendheid van produksie verhoog.
As verteenwoordiger van dié onderneming het Lindsay Green, besturende direkteur as een van die gassprekers opgetree. In sy toespraak het hy gesê: “As jy ’n goeie diens kan lewer, het jy bestaansreg. Ons verhouding met Nicky en sy span is gebou op jare se vertroue en gedeelde waardes – daarom werk dit.”
Weskus Meganisasie ondersteun plaaslike kontrakteurs en skole, en pas voortdurend aan by wêreldwye en plaaslike tendense. Die onderneming bemark ’n reeks toonaangewende handelsmerke, insluitend Landini, JCB, LuiGong en vele ander produkte.
“Ons wil ‘n jarelange verhouding met elke kliënt bou – dis nie net ‘n transaksie nie, dis ‘n vennootskap,” sê Russouw.
Die toekoms lyk blink
Weskus Meganisasie se pad van groei is ‘n getuienis van visie, volharding en vertroue in mense – of dit nou personeel, verskaffers, klante of gemeenskappe is. Die Clanwilliam-tak is nie die laaste hoofstuk nie, maar ’n opwindende nuwe begin.
“Ons beweeg vorentoe – doelgerig, diensgerig en dankbaar vir die ondersteuning wat ons tot hier gebring het,” sê Russouw met trots.
Vir meer linligting besoek weskusmeg.argo-dealer.com of besoek Voortrekker straat 34, Clanwilliam.