13.6 C
Cape Town
Friday, September 19, 2025

Bredasdorp Park bekroon by Wes-Kaapse Ekonomiese Innovasie-toekennings

NampoBredasdorp Park bekroon by Wes-Kaapse Ekonomiese Innovasie-toekennings

Bredasdorp Park NPC is vereer met een van die gesogte Wes-Kaapse Ekonomiese Innovasie-toekennings vir hul baanbrekerswerk met die NAMPO Kaap landbou-ekspo.

Hierdie jaarlikse toekennings bekroon uitnemendheid in ekonomiese innovasie en gee erkenning aan individue en organisasies wat deur kreatiewe denke en vernuwende benaderings betekenisvolle ekonomiese groei in die Wes-Kaap bevorder. John Lawson, uitvoerende hoof van die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid, het beklemtoon dat die toekennings daarop gemik is om die rol  van innovasie as dryfveer vir vooruitgang te beklemtoon en toekomstige innoveerders te inspireer.

Altesaam 14 innovasietoekennings is in vier kategorieë toegeken om Suid-Afrikaanse innoveerders te vereer wat tot ekonomiese groei in die Wes-Kaap bydra. Die jaarlikse toekennings bevorder innovasie as ‘n belangrike deel van die provinsie se Groei vir Werk-strategie. “Innovasie is die dryfveer agter vooruitgang,” het John Lawson, uitvoerende hoof van die Kaapse Kamer van Koophandel, gesê. “Die viering van ons innoveerders inspireer toekomstige innoveerders om hul idees te ontwikkel.”

Bredasdorp Park en NAMPO Kaap groei as landbou-innovasieplatform

Henk Aggenbach, voorsitter van die Bredasdorp Park NPC-raad, het die toekenning namens Bredasdorp Park NPC ontvang. Dit is toegeken vir die rol wat NAMPO Kaap speel in die bevordering van die landboubedryf en die dryf van ekonomiese groei in die Wes-Kaap.

Die geskiedenis van die ekspo dateer terug na 1992 toe Niel Giliomee die eerste landboudag in die Overberg aangebied het. In 2017 het Bredasdorp Park NPC, in vennootskap met Overberg Agri, die bestuur van Bredasdorp Park oorgeneem. Met die ondersteuning van Graan SA is dit ontwikkel tot die tuiste van NAMPO Kaap – Suid-Afrika se tweede grootste landbou-ekspo. Die ekspo verenig sleutelbelanghebbendes soos Graan SA, MPO, RPO, Stamboek, NWKV en verskeie regeringsinstansies.

NAMPO Kaap het sedert sy ontstaan indrukwekkende groei getoon. Die aantal uitstallers het gestyg van 350 in 2018 tot 542 in 2024, terwyl besoekersgetalle van 16 000 2018 tot 45 894 in 2024 gegroei het. Uitstallers se beleggings in die ekspo het van R18 miljoen in 2018 tot R30 miljoen in 2024 gestyg, en die impak op die  plaaslike ekonomie het van R4 miljoen tot R20 miljoen uitgebrei – ‘n  duidelike aanduiding van die ekspo se groeiende invloed en sukses.

“Hierdie toekenning is vir ‘n organisasie. Baie geluk en dankie aan elke lid van die span. Ek is trots om deel van hierdie span te wees,” het Aggenbach by ontvangs van die toekenning gesê. In sy slottoespraak het die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, ook spesifiek verwys na NAMPO Kaap en Bredasdorp Park as impakvolle organisasies wat mense, idees en gemeenskappe saambring.

Innovasie, het Winde en ander sprekers benadruk, gaan nie net oor tegnologie nie, maar oor ingesteldheid – om oplossings te vind, om groei te dryf, en om die toekoms doelgerig te vorm.  NAMPO Kaap vind plaas van 10 – 13 September 2025 te Bredasdorp Park.

Check out our other content