Die Landbou Navorsingsraad (LNR) het die wenners van die 2025 Nasionale Meester-suiwelboer-toekennings op Donderdag 13 November by Lanzerac-wynlandgoed op Stellenbosch aangekondig.
Hierdie gesogte kompetisie, ‘n hoogtepunt op Suid-Afrika se landboukalender, gee jaarliks erkenning aan uitstaande prestasie deur die land se top-suiwelboere. Wenners word in verskeie kategorieë bekroon as die beste presteerders in die teel van geneties uitstaande diere, met behulp van prestasie-opname en prestasie-toetsing as instrumente.
Die wenners van die 2025 LNR Nasionale Meester-suiwelboer-toekennings is:
- Grootskaal Meester-suiwelboer van die Jaar: JK Basson Family Trust, Darling, Wes-Kaap
- Mediumskaal Meester-suiwelboer van die Jaar: Van Niekerk Boerdery BK, Caledon, Wes-Kaap
- Kleinskaal Meester-suiwelboer van die Jaar: Letsolo PT Dairy, Sebokeng, Gauteng
- ‘n Nuwe kategorie: Korrektiewe Dienste Meester-suiwelboer van die Jaar: Goedemoed Correctional Services, Maletswai (Aliwal Noord), Oos-Kaap
- Kudde met die beste somatiese seltelling: Packwood Farm, Knysna, Wes-Kaap, met
170 000 selle/ml
- Kudde met die beste tussenkalfperiode: JK Basson Family Trust, Darling, Wes-Kaap, met ‘n tussenkalfperiode van 375 dae

’n Eretoekenning is aan Boy Blanckenberg van Klipheuwel naby Durbanville toegeken – ’n huldeblyk aan sy visionêre leierskap, onwrikbare steun aan suiwelboere en lewenslange bydrae tot die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf.
WÊRELDINSIGTE VIR PLAASLIKE UITNEMENDHEID
Tydens die geleentheid is terugvoer gedeel oor die 2025 Wêreld-suiwelberaad van die Internasionale Suiwelfederasie (IDF), wat in Oktober in Santiago, Chili, plaasgevind het. Christine Leighton, projekbestuurder by Melk Suid-Afrika, het enkele sleutel-insigte uit die wêreldbyeenkoms gedeel, waar meer as 2 000 afgevaardigdes van oor die wêreld bymekaargekom het om onderwerpe soos opvolgbeplanning, stygende insetkoste, arbeidstekorte en nuwe tegnologieë soos robotmelkerye te bespreek.
VENNOOTSKAP VIR LANDBOU-UITNEMENDHEID
Dr. Litha Magingxa, President en HUB van die LNR, en Joyene Isaacs, Voorsitter van die LNR, het die wenners gelukgewens en beklemtoon dat die Landbounavorsingsraad (ARC) ’n betroubare vennoot in wetenskap en innovasie vir Suid-Afrika se suiwelboere is – met die oog daarop om saam ’n volhoubare, regverdige en vooruitstrewende bedryf te bou.
Die toekenningsgeleentheid is aangebied deur Agri-Expo, namens die Nasionale Melkaantekening- en Verbeteringskema van die LNR, en is moontlik gemaak met die ondersteuning van vennote, insluitend die Departement van Landbou, Nedbank, Nova Feeds, Agri-Expo, Afgri, Semex South Africa, Dairy Management Consulting (DMC), Meadow Feeds, World Wide Sires South Africa, Ecolab, Chemuniqué, Axiota® Animal Health, Hollard en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Suiweltegnologie (SASDT).
Die LNR se Nasionale Melk-aantekening- en Verbeteringskema speel ‘n kritieke rol in die suiwelbedryf deur die verskaffing van genetiese verbeteringsdienste, wat geakkrediteer is deur die Internasionale Komitee vir Diereopname. Die doel van die skema is om die volhoubaarheid en winsgewendheid van produksie te verbeter, wat uiteindelik bydra tot voedselsekerheid, werkskepping en die ontwikkeling van menslike kapitaal.
Belangstellendes kan die toekenningseremonie aanlyn kyk by https://www.agriexpo.co.za/arc. Vir meer inligting, kontak Hendrik de Waal by [email protected] of 082 775 7703.