23.2 C
Cape Town
Friday, April 10, 2026

Agristudies: Gratis bek-en-klouseer kursus vir boere beskikbaar

FarmingAgristudies: Gratis bek-en-klouseer kursus vir boere beskikbaar

’n Nuwe gratis aanlyn opleidingskursus oor bek-en-klouseer (BKS) is nou beskikbaar vir boere regoor Suid-Afrika deur agristudies.co.za, in samewerking met agriauctionssa.co.za.

Die kursus fokus op die voorkoming, biosekuriteit en hantering van bek-en-klouseer-uitbrekings, en is ontwikkel om boere en plaaswerkers met praktiese kennis toe te rus oor hoe om hierdie hoogs aansteeklike veesiekte te bestuur.

Volgens Pieter Goosen van agristudies.co.za is die kursus deel van ’n breër inisiatief om die landboubedryf te ondersteun te midde van die voortdurende uitdagings wat bek-en-klouseer vir die veesektor inhou.

“Bek-en-klouseer bly een van die mees gevreesde veesiektes wêreldwyd omdat dit vinnig versprei en ernstige ekonomiese gevolge kan hê,” sê Goosen. “Die doel van hierdie kursus is om boere te help om die siekte beter te verstaan, vroeë tekens te herken en praktiese biosekuriteitsmaatreëls op hul plase toe te pas.”

Die opleiding bestaan uit 12 modules wat onder meer fokus op die aard van die virus, watter diersoorte geraak word, hoe die siekte versprei, en watter simptome boere betyds moet kan identifiseer.

Daar word ook aandag gegee aan biosekuriteitstelsels op plaasvlak, insluitend beheerde toegang tot plase, ontsmetting van voertuie en toerusting, veilige aankoop van vee, en kwarantynprosedures vir nuwe diere.

Verder behandel die kursus die stappe wat boere onmiddellik moet neem indien ’n moontlike geval van bek-en-klouseer vermoed word. Dit sluit in die onmiddellike stop van dierebewegings, isolering van aangetaste diere en die wettige verpligting om owerhede in kennis te stel.

Die program verduidelik ook regeringsbeheermaatreëls soos sonebeheer, bewegingsbeperkings, entstrategieë en die prosedures wat tydens uitbrekings gevolg moet word.

Volgens Goosen is die kursus nie slegs vir boere bedoel nie, maar ook vir plaasbestuurders en plaaswerkers wat met vee werk.

“Dit is ’n praktiese opleidingsprogram wat boere help om beter biosekuriteitstelsels op hul plase te implementeer en hul kuddes te beskerm,” sê hy.

Die kursus word volledig aanlyn aangebied, wat beteken dat deelnemers dit teen hul eie tempo kan voltooi.

’n Sertifikaat word uitgereik nadat die kursus suksesvol voltooi is.

Boere kan vir die kursus registreer deur ’n WhatsApp-boodskap met die woorde “FMD kursus” te stuur na 064 597 8183, of deur www.agristudies.co.za⁠ te besoek.

Check out our other content